Rowers slaan wéér toe in Paarl: 3de roof in Lady Greystraat in 7 dae

Lady Greystraat in die Paarl loop deur onder gewapende rooftogte.
Lady Greystraat in die Paarl loop deur onder gewapende rooftogte. Foto: Verskaf.

’n Derde gewapende roof binne een week het Saterdagmiddag, 6 Junie, in Lady Greystraat plaasgevind toe twee gewapende mans na bewering op Express Cash Loans, langs die Towers-gebou, toegeslaan het.

Volgens konst. Ndakhe Gwala, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval omstreeks 12:40 plaasgevind.

“Luidens verslae het twee onbekende mans die slagoffers met vuurwapens gedreig en met drie skootrekenaars gevlug. Die verdagtes het hul gesigte met mediese maskers bedek,” het Gwala gesê.

Sover is nog niemand in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Die Clothing Junction-klerewinkel was óók die afgelope Donderdag geteiken.
Die Clothing Junction-klerewinkel was óók die afgelope Donderdag geteiken. Foto: Verskaf.

Die jongste voorval volg minder as ’n week nadat vyf gewapende rowers verlede Maandagoggend, 1 Junie, by die selfoonwinkel Netcell N Sound in dieselfde straat toegeslaan het. Tydens dié rooftog is werkers vasgebind terwyl selfone, selfoonbatterye en kontant gesteel is.

Die Clothing Junction-klerewinkel was die tweede teiken en is die afgelope Donderdag, 4 Junie, beroof. Volgens Gwala is daar egter nog geen amptelike inligting oor hierdie spesifieke rooftog beskikbaar nie.

Die Netcell N Sound-selfoonwinkel het die afgelope Maandag deurgeloop onder ‘n rooftog.
Die Netcell N Sound-selfoonwinkel het die afgelope Maandag deurgeloop onder ‘n rooftog. Foto: Chantélle Hartebeest

’n Verdagte is wel ná ’n dramatiese jaagtog deur die middedorp in hegtenis geneem nadat lede van die Mbekweni-polisie die rooftog onderbreek het. Die polisie het beslag gelê op ’n rugsak vol elektroniese toestelle, asook ’n vuurwapen wat die verdagte glo tydens sy vlug weggegooi het.

LEES | Rooftog by selfoonwinkel amper soos Wilde Weste-fliek

Besigheidseienaars in die gebied het destyds hul kommer uitgespreek oor die toename in gewapende rooftogte en gevra dat meer gedoen word om misdaad in die sakekern hok te slaan.

Die voorval by Express Cash Loans is die derde gewapende roof wat die afgelope week in Lady Greystraat aangemeld is, wat verdere vrae laat ontstaan oor veiligheid in die Paarl se sentrale sakegebied.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie