E-tol: Dié skuld was nooit haalbaar nie, sê Outa

2 Desember 2013: ‘n E-tolportaal in Johannesburg. Dit was die datum wat die e-tolstelsel in werking getree het. Foto: Gallo Images

Motoriste met e-tol-skuld kan uiteindelik ontspan: Al dié skuld word afgeskryf.

“Dit bevestig wat Outa en baie ander al vir langer as ’n dekade sê. Hierdie skuld was, realisties gesproke, nooit verhaalbaar nie,” sê Wayne Duvenage, die uitvoerende hoof van die Organi­sasie teen Belastingmisbruik (Outa) en een van die sleutelspelers in die stryd teen e-tol, oor dié kabinetsbesluit.

Dit volg nadat e-tol al in 2024 gestaak is en byna 13 jaar nadat e-tol amptelik in Gauteng van stapel ge­stuur is.

Die skrappingbesluit bring ook ’n einde aan die jare lange regstryd tussen Outa en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral). Volgens Duvenage was dit teen 2014 al duidelik dat e-tol gedoem was. “Tog het dit die regering meer as ’n dekade geneem om die onvermydelike te aanvaar.

“Hierdie langdurige vertra­ging weerspieël die regering se onvermoë om beslissend op te tree wanneer die bewyse duidelik op beleidsmislukking dui.”

Outa het in Oktober 2015 ’n e-tol-verdedigingsambreel aangekondig vir padgebruikers wat deur Sanral vir e-tolskuld gedagvaar is.

Nadat Sanral in 2016 met die uitreik van duisende dagvaar­dings begin het, is gevrees dié dagvaardings sou howe oorweldig.

Outa en Sanral het toe ooreen­gekom op ’n toetssaak in die hooggeregshof.

Dié saak het in Mei 2017 begin. Outa het 2 028 individue en ondernemings wat gedagvaar is, verteenwoordig. R265 miljoen se agterstallige skuld was ter sprake.

Teen Maart 2019 was die toetssaak in ’n gevorderde sta­dium toe Sanral aankondig die invordering van e-tolskuld word deur regsprosesse gestaak.

Dit was steeds die geval toe die stelsel in April 2024 amptelik beëindig is.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie