Die ikoniese Britse kunstenaar David Hockney het op 11 Junie 2026 gesterf, ‘n maand voordat hy sy 89ste verjaardag sou vier. Maar sy kunswerke sal vir ewig voortleef . . .
Hockney, afkomstig van wat as ‘n radikale werkersklas-familie beskryf word, het in die sestigerjare naam gemaak as ‘n popkunstenaar. Hy het sy eerste skildery – een van sy pa, Kenneth Hockney – in 1957 by die Yorkshire Arts vir £10 verkoop.
Sy skilderye van swembaddens was weergaloos. Kleurvol, speels, maar werke soos A Bigger Splash en Portrait of an Artist (Pool With Two Figures) het hedonistiese tonele van liefde, wellus en verlies onder die Los Angeles-hemelruim uitgebeeld.
Die Britse premier Keir Starmer was ook onder die eerstes wat hulde aan Hockney gebring het. “Die premier is bedroef om te hoor van die dood van David Hockney, een van Brittanje se mees gevierde kunstenaars,” het ‘n woordvoerder gesê.
Alex Farquharson, direkteur van Londen se Tate-gallery, het Hockney as ‘n “geweldig belangrike figuur” beskryf.
“David was ‘n eindeloos vindingryke kunstenaar, met ‘n unieke visie van die wêreld.”
