Ek en my man weet nie veel van boerdery af nie, maar ons besluit tog om vanjaar vir die eerste keer nog die Nampo-oesdagskou buite Bothaville te besoek.
Ons was egter hopeloos te laat om enige verblyf op Bothaville, Viljoenskroon en omgewing te bekom. Ons oornag toe op Potchefstroom, wat beteken dat ons Vrydagoggend vroeg in die donker die slegte pad na Bothaville moes aandurf. Ons staan uiteindelik ’n uur lank buffer teen buffer en wag om in te gaan. Die geordende, netjiese, kompakte terrein waarvan dele nog onlangs verspoel was, beïndruk ons. En daar begin ons gróót stap, want dis ’n gróót plek met gróót plaasimplemente.
Waar ons twee ook al stop en ons ons aan die massiewe spilpunte, planters, stropers, hommeltuie en meer verstom, is vriendelike manne by om ons twee oningeligtes ’n kykie te gee in deesdae se hoogs gerekenariseerde en wetenskaplike boerderywêreld.
Terwyl ek opkyk na die lugversorgde kajuite van ultra-moderne trekkers, dink ek aan die oop trekkers van vroeër waarop die boer in wind en weer gesit en ploeg het. Daarna begin die soektog na die rooi rose-tent waar Hannes van Wyk om tienuur sy hartsbriewe gaan voorlees met Coenraad Rall as pianis. Wat ’n hartroerende optrede deur Hannes.
Ons stap deur sale met stalletjie der stalletjie van alles en nog wat. Het ek dalk die boervroue se stalletjies met gebottel en gebak misgeloop? Ons besoek aan Nampo was werklik baie insiggewend. Dit kan net nog wonderliker wees met al die diere weer terug.
- Marie, Mbombela
