Dis nie die eerste keer dat die Australiese regering waarsku teen besoeke aan Suid-Afrika nie. Maar ‘n nuwe waarskuwing is so pas weer deur hul Departement van Buitelandse Sake en Handel uitgereik met ‘n soortgelyke toon: Wees baie versigtig in Suid-Afrika vanweë verhoogde vlakke van geweld in die land.
Dié waarskuwing is reeds op 15 Mei vanjaar uitgereik en dit is nog steeds in plek.
Volgens Businesstech volg die reiswaarskuwing nadat die organisasie teen onwettige immigrasie, March and March, bevestig het dat hulle met ’n landwye stilstand op 30 Junie 2026 sal voortgaan.
Die aankondiging volg op ’n dringende vergadering by die Uniegebou in Pretoria in Mei, waar ministers van die Justisie-, Misdaadvoorkoming- en Veiligheidskluster vergader het om die toenemende betogings wat met onwettige immigrasie verband hou, te bespreek.
March and March hou reeds sedert hul stigting vroeg in 2025 betogings, maar spanning het die afgelope weke toegeneem weens botsings wat met die beweging se aktiwiteite verband hou.
Die stigter van die Suid-Afrikaanse burgerlike beweging March and March is Jacinta Ngobese-Zuma. Sy is ’n voormalige bekroonde radiopersoonlikheid wat burgerlike aktivis geword het en die beweging gestig het om te fokus op kwessies rondom onwettige immigrasie, grensbeheer en sosio-ekonomiese dienslewering in Suid-Afrika.
Die beplande landwye stilstand het kommer laat ontstaan oor moontlike ontwrigtings en veiligheidsrisiko’s, terwyl owerhede die situasie fyn monitor.
Die onlangse gru-voorval waartydens Ernst Marais (71) en sy vrou, Dina (73), van Mosselbaai op 20 Mei by Crook’s Corner in die verre noordooste van die Krugerwildtuin vermoor is, het natuurlik ook nie in die buitelandse media ongemerk verbygegaan nie.
Van die waarskuwings behels die volgende:
- Betogings en groot byeenkomste kan enige plek, enige tyd in Suid-Afrika plaasvind. Vermy betogings en demonstrasies.
- Gebruik hoofpaaie waar dit veilig is om dit te doen en maak seker dat alternatiewe roetes wat deur jou GPS aanbeveel word, veilig is voordat jy reis.
- Volg plaaslike media en hou by die advies van plaaslike owerhede.
- Misdaad en geweld is ernstige probleme regoor Suid-Afrika, insluitend moord, verkragting, aanranding, die vermenging van kos en drank met verdowingsmiddels, roof en kapings.
- Daar is ’n risiko van ontvoering regoor Suid-Afrika. Gee aandag aan jou persoonlike veiligheid.
- Misdaadgroepe teiken reisigers en hul bagasie by lughawens en op openbare vervoer. Voertuie wat geparkeer is of by kruisings stilhou, word ook geteiken vir sogenaamde “smash-and-grab”-diefstalle, gewapende roof en kapings.
- Misdadigers het hulle ook as vals toeristepolisie voorgedoen om toeriste af te pers en te beroof.
- Bedrog met kitsbanke en kredietkaarte kom algemeen voor. Misdadigers wag dikwels naby kitsbanke om mense te beroof of te identifiseer en te volg nadat hulle kontant onttrek het, om hulle later elders te beroof. Wees bewus van jou omgewing en onttrek slegs klein bedrae kontant.
