George Russell van Mercedes sal eerste wegsrping by die Barcelona-Catalunya Grand Prix ná ’n opwindende einde aan Saterdag, 13 Junie, se kwalifiserende sessie.
Die Brit het sy derde eerste wegspringplek van die seisoen verower deur net 0.064 sekondes voor Lewis Hamilton in sy opgegradeerde Ferrari te eindig. Hamilton het kampioenskapsleier Kimi Antonelli in die ander Mercedes na die tweede wegspringry vir Sondag se wedren teruggeskuif.
Leclerc val in Q3 uit
Leclerc, wat goeie spoed in Q1 en Q2 gewys het, het met meer as agt minute oor in Q3 uitgeval, wat die sessie tydelik tot stilstand gedwing het.
Ná ’n moeilike naweek in Monaco verlede week en ’n teleurstellende begin van die seisoen vir ’n gunsteling om voor te loop, het Russell gesê dit was goed om weer “in die ritme te kom” terwyl hy die 10de eerste wegspringplek van sy loopbaan behaal het.
LEES | F1 off the track: Kardashians, broken fiats and gossip that stole the show
Antonelli het die laaste vyf wedrenne gewen en mik na ’n sesde oorwinning op Sondag, maar sal van derde op die rooster moet wegspring ná ’n uitstekende laat rondte deur Hamilton.
Die sewemalige wêreldkampioen het ’n moeilike naweek beleef, maar was aansienlik vinniger in kwalifisering en het baie naby daaraan gekom om self eerste weg te spring.
“Dit was tot dusver ’n uitstekende naweek. Ek veg altyd hard. Ek het hierdie naweek met ’n skoon bladsy begin, goed gevoel en dit is wonderlik om op eerstete wees,” het Russell gesê.
“Dit gaan môre ’n interessante wedren wees. Lewis het uitstekende werk gedoen om daar bo uit te kom, so daar sal beslis ’n stryd wees. Môre gaan nie maklik wees nie.”
Verdedigende kampioen spring vierde weg
Dit het gelyk of McLaren die naaste was daaraan om Mercedes hierdie naweek uit te daag, maar die 2025-kampioen, Lando Norris, het vierde gekwalifiseer en Oscar Piastri sewende.
Red Bull se Max Verstappen en Isack Hadjar was onderskeidelik vyfde en sesde. Liam Lawson van Racing Bulls en Nico Hülkenberg het agtste en negende geëindig, voor Leclerc, wat ná sy ongeluk ongedeerd uit die motor geklim het.
- Die Spaanse Grand Prix spring 14:55 weg.
