George Kusche was nie net die eerste hardloper oor die wenstreep nie, hy het het ook ’n 18-jaar oue rekord aan skerwe laat spat met sy uitstekende vertoning vroeër Sondagoggend tydens die 99ste Comrades-wedloop.
Die 27-jarige atleet het die op-Comrades (waar daar van Durban na Pietermaritzburg) gehardloop word, binne ’n verbysterende tyd van 5:15:56 voltooi. Die tyd moet nog amptelik bevestig word. Die vorige rekord van 5:24:49 is in 2008 deur die Russiese lenige langasem Leonid Shvetsov opgestel.
Shvetsov het terloops ook die vorige jaar die af-Comrades binne rekordtyd gewen toe hy die legendariese Bruce Fordyce se rekord gebreek het toe hy die wedloop binne 5:20:41 voltooi het. Hy word as een van die grootse internasionale Comrades-hardlopers van daardie era beskou.
Kusche se deelname was nie sonder drama nie. Ten spyte van ’n maagaandoening het hy die leiding geneem met nog 10 km van die wedloop oor. Alhoewel dit gelyk het asof hy in pyn verkeer het, het dit hom nie van stryk gebring nie.
“Dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het. Ek het geweet dis ’n waagstuk . . . maar teen die einde het dit uitgewerk,” het hy na afloop van die wedloop gesê.
Die tweede atleet oor die eindstreep was die verdedigende kampioen, die Vlieënde Hollander Pit Wiersma (5:19:36) en in die derde plek SA se Mbuti Mollo (5:21:31) wat reeds 7 wedlope agter die rug het.
Rekord op rekord deur Gerda Steyn
Sy word by tye die “Koningin van die heuwels” genoem, en Gerda Steyn verdien elke lofsang vir haar epiese prestasies op die langpad. Vir haar mededeelnemers is sy ook soms die “Glimlaggende sluipmoordenaar” . . .
Buiten die feit dat sy Sondagoggend haar vyfde Comrades-wen ingepalm het, het sy haar eie rekord vir die op-Comrades se nek omgedraai toe sy die wedloop in 5:44:53 voltooi het. (Die tyd moet nog amptelik bevestig word). Haar vorige rekord in 2024 was 5:49:46.
Gerda is slegs die tweede vroueatleet wat vyf Comrades-oorwinnings behaal het. Die Russiese langafstandatleet Elena Nurgalieva het 8 agter haar naam. Sy en haar identiese tweelingsuster, Olesya, het tussen 2003 en 2014 die Suid-Afrikaanse wedlooptoneel oorheers.
Gerda het ’n stewige beloning vir haar prestasie losgehardloop. Sy ontvang die standaard-wenprys van R925 000, asook ’n bykomende R605 000 vir die verlaging van die roeterekord plus ’n bonus van R550 00 omdat sy haar eie vernietigende rekord vir die hoogste gemiddelde tempo laat spaander het deur ’n gemiddelde spoed van 4:01 per kilometer tussen die heuwels deur te behaal.
Sondag was beslis ’n dag vir Afrika se vroueatlete om hul staal te toon.
Nobukhosi Tshuma van Zimbabwe was tweede (5:53:36). Vroeër vanjaar het sy tydens die Twee Oseane-wedloop ’n bronsmedalje op dramatiese wyse losgehardloop het. Sy het enkele meters van die eindpunt ineengestort, maar die vasberade atleet het nie opgegee nie. Nobkhosi het voortgekruip en so die derde plek verwerf.
Irvette van Zyl was derde (6:02:30). Hierdie was haar eerste op-Comrades en sy was baie opgewonde oor die uitdaging wat voorgelê het. Irvette, geen onbekende aan wedlope nie, het verlede jaar haar debuut in die Comrades-wedloop gemaak en toe ’n skitterende vierde plek binne 6:11:35 behaal.
