Hier is die hoofnuus wat vandag, 18 Junie, gebeur het. Dié artikel bevat die vernaamste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
- Moenie die derde episode van Die Papier Praat vanaand om 19:00 op ons YouTube-kanaal misloop nie.
- Die MK-party het die voormalige LP Duduzile Zuma-Sambudla uitgeskop en die woordvoerder Nhlamulo Ndhlela uit sy pos verwyder, en hulle daarvan beskuldig dat hulle optrede toon wat party-eenheid, dissipline en samehorigheid ondermyn.
- Die Onafhanklike Verkiesingskommissie doen ’n beroep op burgers om te registreer om aan die komende munisipale verkiesings deel te neem, met die 1ste registrasieveldtog wat hierdie naweek plaasvind.
- Die staat het die aanklagte voorlopig teruggetrek teen beskuldigde no. 3 in die saak van 3 buitelandse burgers wat verlede maand in verband met ’n dwelmvonds van etlike miljoene rand by die Beitbrug-grenspos in hegtenis geneem is, ná die verdagte Musina-landdroshof verskyn het.

- eThekwini het ’n alternatiewe terrein beskikbaar gestel vir die verwerking van buitelandse burgers in Durban, ná polisie gister by Sherwood Park met betogers gebots het.
- Die voormalige prokureur Peet Viljoen het kortliks in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn, maar die saak vir ’n amptelike borgtogaansoek is tot 26 Junie uitgestel.
- Die komitee wat pres. Cyril Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging moet plaas, het op regsadvies besluit om sy dringende aansoek om ’n interdik teen die verrigtinge te stuit, teen te staan.
- Die DA se nasionale oudit van 1 025 polisiestasies het bevind dat meer as die helfte (571 stasies of 56%) nie telefonies bereik kon word nie.
- ’n 69-jarige gas van Kanada is gisteraand noodlottig gewond by ’n braai-piekniekarea wat deur ’n konsessiehouer bedryf word naby Phabenihek in die Krugerwildtuin, ná ’n private gids glo per ongeluk ’n vuurwapen laat afgaan het.

- PA-leier Gayton McKenzie het sy ondersteuners gewaarsku om nie aan beplande proteste teen ongedokumenteerde buitelanders, met spanning wat nou kookpunt bereik het nadat die polisie met Malawiese immigrante gebots het wat gewag het om na hul tuisland terug te keer.
- Talle entrepreneurs het hul stemme weer dik gemaak wat hul spaargeld belê het in die Tammy Taylor Nails-franchise, ná Peet in Johannesburg in hegtenis geneem is, en voel hulle is ingedoen deur die voormalige prokureur en sy vrou, Mel.
- Minister van landbou, John Steenhuisen, het glo Woensdag nie opgedaag by ’n jeugbemagtigingsgeleentheid in Stellenbosch nie, slegs enkele ure ná hy in kennis gestel is dat hy nie meer dié posisie in die RNE se kabinet gaan beklee nie.

Oorsee
- Die Verenigde Arabiese Emirate het nou lande soos Australië en Engeland se voorbeeld gevolg wat ’n verbod op sosiale media vir kinders onder 15 jaar aangekondig het.
- ’n Man is in Pole in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n Russiese Poetin-kritikus, het eerste minister Donald Tusk gesê.
- Katar, ’n sleutelonderhandelaar in die ooreenkoms om die oorlog tussen die VSA en Iran te beëindig, het gesê hulle is tevrede en die ooreenkoms dien as ’n stewige basis vir verdere gesprekke.
- Die voorspeler Elye Wahi sal Ivoorkus se 2de Wêreldbeker-wedstryd teen Duitsland misloop nadat hy nie ’n visum gekry het om Kanada binne te gaan nie.
- China het Taiwan gewaarsku dat pogings om onafhanklikheid te verkry deur op die VSA staat te maak, ‘slegs op ’n doodloopstraat sal uitloop’, nadat die Taiwanese president, Lai Ching-te, gesê het hy hoop Washington sal binnekort ’n wapenverkooptransaksie van $14 miljard aan die selfregerende eiland goedkeur.
- China sê dit verwelkom die nuus dat die VSA en Iran ’n ooreenkoms onderteken het om die oorlog in die Midde-Ooste te beëindig en het beide partye aangemoedig om hul samewerking voort te sit tydens ’n tweede ronde onderhandelinge.
