Wenbrief van die week: Besoek aan Nampo verstom, gee insig

Besoekers by vanjaar se Nampo-skou.
Besoekers by vanjaar se Nampo-skou. Foto: Facebook

Ek en my man weet nie veel van boerdery af nie, maar ons be­sluit tog om vanjaar vir die eerste keer nog die Nampo-oesdagskou buite Bothaville te besoek.

Ons was egter hopeloos te laat om enige verblyf op Bothaville, Viljoenskroon en omgewing te bekom. Ons oornag toe op Potchefstroom, wat beteken dat ons Vrydagoggend vroeg in die donker die slegte pad na Botha­ville moes aandurf. Ons staan uiteindelik ’n uur lank buffer teen buffer en wag om in te gaan. Die geordende, netjiese, kompakte terrein waarvan dele nog onlangs verspoel was, beïndruk ons. En daar begin ons gróót stap, want dis ’n gróót plek met gróót plaasimplemente.

Waar ons twee ook al stop en ons ons aan die massiewe spilpunte, planters, stropers, hommeltuie en meer verstom, is vriendelike manne by om ons twee oningeligtes ’n kykie te gee in deesdae se hoogs gerekenariseerde en wetenskaplike boerderywêreld.

Terwyl ek opkyk na die lugversorgde kajuite van ultra-moderne trekkers, dink ek aan die oop trekkers van vroeër waarop die boer in wind en weer gesit en ploeg het. Daarna begin die soektog na die rooi rose-tent waar Hannes van Wyk om tienuur sy hartsbriewe gaan voorlees met Coenraad Rall as pianis. Wat ’n hartroerende optrede deur Hannes.

Ons stap deur sale met stalle­tjie der stalletjie van alles en nog wat. Het ek dalk die boer­vroue se stalletjies met gebottel en gebak misgeloop? Ons besoek aan Nampo was werklik baie insiggewend. Dit kan net nog wonderliker wees met al die diere weer terug.

  • Marie, Mbombela

Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:

lesers@diepapier.co.za


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie