Die uitspraak in die borgtogaansoek van twee Paarlse klubrugbyspelers wat van verkragting aangekla word, is van 19 Junie in die Wellington-landdroshof tot Maandag, 22 Junie, uitgestel.
Die landdros, Marti Wilson, het aangedui dat sy meer tyd benodig om haar beslissing te finaliseer en dat sy verdere relevante hofuitsprake wil bestudeer voordat sy uitspraak lewer.
Die hofsaal was weer gevul met familielede, vriende en ondersteuners van sowel die beskuldigdes as die klaer. Emosies het hoog geloop toe die uitstel aangekondig is.
Hersieningsaansoek
Die borgtogaansoek is reeds verskeie kere uitgestel nadat die staat aangedui het dat hy die verrigtinge op hersiening na die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad wil neem. Die formele hersieningsaansoek is egter nog nie ingedien nie.
Volgens die staat is die beoogde hersiening gegrond op die mislukking van sy aansoek dat Wilson haarself aan die saak moet onttrek, asook op beweerde “prosedurele onreëlmatighede” tydens die borgtogverrigting
Die staat het verder aangevoer dat Wilson se hantering van die verrigtinge deurgaans nie konsekwent was nie en dat sy gevolglik die saak behoort af te staan
Aansoek om onttrekking
Wilson het op 2 Junie uitspraak gelewer in die staat se aansoek, wat op 27 Mei gebring is, dat sy haar aan die saak moes onttrek.
In haar uitspraak het Wilson gesê die staat, verteenwoordig deur die streekaanklaer, adv. Hamley Marquard, moes bewys dat daar ’n redelike persepsie van vooroordeel bestaan.
Sy het bevind dat onvoldoende gronde voor die hof geplaas is om so ’n bevinding te regverdig en het die aansoek van die hand gewys.
Ná die uitspraak het Marquard aangedui dat die staat binne sewe tot tien dae ’n aansoek in die hooggeregshof sou bring om die verrigtinge te laat hersien.
Aanklagte
Die twee beskuldigdes, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student van die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Volgens die bewerings is die student in die vroeë oggendure van 27 April vier keer in haar kamer by ’n studentehuis verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ’n saamrygeleentheid van ’n nagklub in Newton, Wellington, na haar studentebehuising gegee het.
Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ’n bekende rugbyklub in die Boland en sou na bewering op 3 Mei by ’n nuwe rugbyklub in Limpopo aansluit.
Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ’n rugbyklub in die Swartland-distrik.
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.
