Ondersteunende ouers, asook die vangnet wat ouers bied, is baie kinders nie beskore nie. “Ons kinders het nie lewensvaardighede as hulle hierheen kom nie,” sê Driana Zandberg, die hoof van die Bramley-kinder- en jeugsorgsentrum in Pretoria.
Sy sê die meeste van die kinders in hul sentrum kom uit omstandighede van erge armoede, dwelm- en drankmisbruik, verwaarlosing en mishandeling – fisiek en emosioneel.
“Hulle het dikwels nie skool toe gegaan nie en het min lewenskennis,” sê sy.
Daarom het Bramley die “Vlerke”-program vir hoërskoolkinders begin. Dié program leer hulle vaardighede soos kosmaak en hulle kry ekstra hulp met vakke soos tale, wiskunde en wetenskap. Hulle word gehelp om dinge te bekom waarmee ouers tradisioneel sou gehelp het, soos om jou ID-kaart, rybewys en naskoolse opleiding te kry.
“Ons kry hulp van onder andere studente wat die kinders verder met loopbaankeuses, selfbeeldontwikkeling en selfversorging, etiese gedrag en so meer help,” sê sy.
Die Bramley-kinder- en jeugsorgsentrum is deel van Child Welfare Tshwane en Die Kinderfonds gee geld vir die “Vlerke”-program.
Zandberg vertel van ’n gebroke seun wat uiteindelik deur “Vlerke” kon vlieg. Die seun is lank deur sy pa gemolesteer.

Terwyl die strafregtelike saak ondersoek is, is sy ma met ’n ander man weg. Die seun het probeer om sy eie lewe te neem, waarna hy in gr. 11 ’n tuiste in Bramley gevind het. Aanvanklik het hy op skool gesukkel, maar matriek geslaag met twee B’s, twee C’s en twee D’s. Hy kon met ’n beurs musiek gaan swot omdat hy ’n talentvolle pianis is.
“Ons ondersteun ’n paar soortgelyke programme landwyd. Om kinders só te bemagtig, is net moontlik as jy as leser ’n bydrae gee. Jou skenking verander ’n kind se lewe van wanhoop na hoop en ’n toekoms,” sê Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds. Jy is outomaties in die trekking vir R200 000 of ’n motor wanneer jy skenk. Skenk van R50 vir een inskrywing of R250 vir ses; jy kry dan een gratis inskrywing.
Skenkers wat maandeliks bydra, kan ook R20 000 wen.
Kry al die inligting by diekinderfonds.co.za en skenk by Die Kinderfonds, Absa, rekeningnommer 2840157329. Gebruik jou selfoonnommer as verwysing. Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.
