Drakenstein-gevangenis weer in die kollig oor hoendersterftes

Duisende hoenders is dood op die perseel van die Drakenstein-gevangenis.
Duisende hoenders is dood op die perseel van die Drakenstein-gevangenis. Foto: Verskaf.

Die Drakenstein-gevangenis buite die Paarl is weer in die kollig nadat duisende hoenders na bewering verlede week op die korrektiewe sentrum se perseel gevrek het nadat hulle glo nie betyds geslag of gevoer is nie.

Volgens twee betroubare bronne was die hoenders sowat 70 dae oud toe hulle dood is.

Hoenders word normaalweg tussen 35 en 40 dae oud geslag, maar volgens die bronne het dit nie gebeur nie omdat ’n eksterne diensverskaffer glo nie betaal is om die slagproses uit te voer nie.

Die hoenders is volgens die bronne ná hul dood in groot vraghouers en swart dromme gegooi wat gewoonlik gebruik word vir die wegdoening van vere en ander afvalprodukte ná slagting.

Die Drakenstein-gevangenis beskik oor ’n omvangryke landbou-afdeling wat onder meer hoenders en varke aanhou om vleis aan korrektiewe sentrums in die Wes-Kaap te voorsien.

Een bron beweer die hoenders het uiteindelik gevrek omdat hulle te oud geword het en sonder voldoende voer gelaat is. “Sodra die kos op is, raak die hoenders honger. Hulle begin dan aan mekaar pik en hou aan totdat hulle deur die vel en vleis gepik het. Dan trek hulle selfs die derms uit. As daar genoeg kos is, sal die hoenders nie mekaar vreet nie,” het dié bron verduidelik.

Volgens die ander bron is dit moeilik om die presiese aantal sterftes te bepaal, maar een hok alleen huisves ongeveer 3 800 hoenders waarvan ’n groot aantal dood is.

Die hoenders word gebruik om gevangenes in korrektiewe sentrums reg oor die provinsie te voed.

Nie die eerste voorval nie

Dit is nie die eerste keer dat groot getalle hoenders by die Drakenstein-gevangenis vrek nie. Paarl Post, susterpublikasie van Die Papier, het in Maart 2024 berig dat 5 700 hoenders gevrek het nadat ’n onbeplande wateronderbreking tydens ’n hittegolf plaasgevind het toe temperature in Paarl meer as 42 °C bereik het.

Volgens bronne destyds is die watertoevoer na die pluimveefasiliteit afgesny nadat ’n lekkasie elders op die terrein ontdek is.

Die verlies van die hoenders het na raming meer as R300 000 beloop en tot ’n tekort van 8 551,5 kg hoendervleis vir gevangenisse in die Wes-Kaap gelei.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het destyds bevestig dat 5 700 hoenders dood is en gesê voorlopige ondersoeke het daarop gedui dat dit die gevolg was van buitengewoon hoë temperature wat vererger is deur ’n onbeplande wateronderbreking.

Die hoenders sou enkele dae later geslag word.

Kommer oor varke

Paarl Post het ook voorheen oor kommer rondom die gevangenis se varkboerdery berig. Volgens bronne is sommige varke langer as die aanbevole slagouderdom aangehou, wat tot vetsug onder die diere gelei het.

Daar is destyds beweer dat die varke só vet geword het dat die vleis nie geskik vir menslike gebruik sou wees nie.

Bewaarders het reeds in 2024 in ’n anonieme brief aan die destydse minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, beweer dat hoenders en varke langer as die normale slag-ouderdom aangehou word, wat voer- en produksiekoste verhoog.

LEES | Komitee bekommerd oor Drakenstein en Stellenbosch-gevangenisse

Paarl Post het navrae oor die jongste hoendervrektes aan die nasionale departement van korrektiewe dienste gerig, insluitend vrae oor hoeveel hoenders dood is, maar geen kommentaar is al ontvang nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie