In een van Duitsland se dodelikste skietvoorvalle in jare is vyf mense Maandag by ‘n jeugsorgfasiliteit in Duitsland doodgeskiet. Die vermeende skieter is op die toneel in hegtenis geneem. Verskeie is ook tydens die voorval beseer.
Die polisie in koeëlvaste baadjies en verskeie ambulanse is by die afgesperde toneel in die noordelike stad Stade, wes van Hamburg, gesien ná die skietvoorval.
Die fasiliteit waar die voorval plaasgevind het, huisves ook glo moeder-en-kind-groepe.
Die vermeende skieter en ’n tweede beweerde oortreder is volgens die polisie in hegtenis geneem en hulle het bygevoeg dat daar nie meer enige gevaar vir die publiek is nie.
Albei verdagtes wat in hegtenis geneem is, was ouer as 21, het Spiegel Online berig, en die vyf mense wat doodgeskiet is, was ook almal volwassenes, volgens mediaberigte.
N24-televisie het getuies aangehaal wat gesê het dat die polisie na die gebou ontbied is ná ’n noodoproep en twee verdagtes opgemerk het wat in ’n motor probeer vlug het.
Die polisie het daarna op die voertuig geskiet en dit tot stilstand gebring voor hulle die twee in hegtenis geneem het.
Terwyl nuus van die skietvoorval bekend geword het, het die polisie bevestig dat ’n groot operasie in Stade aan die gang is, ’n stad van sowat 50 000 mense aan die Elberivier, 50 kilometer wes van Hamburg.
“Ons vra julle om die gebied te verlaat en dit vir julle eie veiligheid wyd te vermy,” het die polisie vroeër op X gesê.
Gelukkig is niemand in die nabye dagsorgsentrum en laerskool beseer nie.
“Ons is verlig dat ons personeel en die kinders by die dagsorgsentrum en laerskool veilig is, en ek wil die polisiebeamptes bedank vir hul pogings in hierdie chaotiese situasie,” het stadsraadslid Carsten Brokelmann in ’n aanlyn verklaring gesê.
“Terselfdertyd gaan ons diepste meegevoel uit na die slagoffers van hierdie verskriklike daad en hul families.”
Wapens en wette
Duitsland het van Europa se strengste wapenwette – dit vereis dat enigiemand onder 25 ’n psigiatriese toets moet slaag voordat hulle vir ’n wapenlisensie kan aansoek doen – en massaskietvoorvalle is relatief skaars.
Maar dit gebeur wel van tyd tot tyd, en Maandag s’n was een van die dodelikste in onlangse jare.
- In Februarie 2020 het ’n verregse ekstremis nege mense doodgeskiet en vyf ander in die sentrale Duitse stad Hanau gewond.
- In Maart 2023 het ’n ontevrede voormalige lid van Jehovah se Getuies ses mense van die Christelike groep se gemeente in Hamburg doodgeskiet voordat hy homself geskiet het.
- In Mei 2022 het ’n 21-jarige skieter by ’n sekondêre skool in Noord-Duitsland losgebrand en ’n vroulike personeellid ernstig beseer voordat hy in hegtenis geneem is.
