Die 74-jarige Belgiese afrigter, Hugo Broos, het reeds bevestig dat hy ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi vanjaar sy pos sal verlaat om meer tyd saam met sy familie in België deur te bring. Die soektog na sy opvolger is reeds aan die gang.
Die uitgesproke Gayton McKenzie, PA-leier en minister van sport, kuns en kultuur, het sy steun aan Pitso Mosimane toegesê toe hy Bafana Bafana by die O.R. Tambo-lughawe ná hul Wêreldbeker-veldtog verwelkom het.
Soektog na Broos se opvolger
“Die probleem met ons Suid-Afrikaners is dat ons soms baie eenvoudige dinge onnodig ingewikkeld maak,” het McKenzie Donderdagoggend aan SABC Sport gesê.
“Ek luister na Safa wat sê hulle stel verskeie afrigters op ’n kortlys. Daar is nie verskeie afrigters nie. Daar is net een afrigter wat Bafana Bafana moet lei, en dit is Pitso Mosimane.
“Kom ons hou op om dinge te kompliseer. Die volgende afrigter van Bafana Bafana moet Pitso wees. Ons het iemand nodig wat ons spelers verstaan, iemand wat Hugo Broos geprys het.”
Pitso kry McKenzie se steun
Met verwysing na mense wat nie Mosimane as die ideale afrigter sien nie, het McKenzie gevra: “Wat meer wil julle hê moet Pitso doen? Ek het as minister van sport my volle steun agter Pitso Mosimane gesit. Hy is die afrigter wat Bafana vorentoe moet neem.
“Ons is lief vir Hugo Broos, en hy het vir ons gesê dat as dit van hom afhang, hy die leisels aan Pitso sou oorhandig. Maar ek hoor al hierdie ander name wat genoem word.”
McKenzie onthul gesprekke
Die minister het verder onthul dat hy gesprekke gevoer het met Safa-president Danny Jordaan, Broos en Mosimane, en herhaal dat die voormalige Mamelodi Sundowns-afrigter die pos verdien.
“Ek het met hulle gepraat. Ek het met Danny Jordaan gepraat, ek het met die voorsitter van die tegniese span gepraat en ek het met Pitso gepraat,” het hy gesê.
“Pitso het baie eerbewyse op sy kerfstok. Ons het Pitso Mosimane nou nodig in ons sokker. Hy het ’n boek geskryf wat ek gelees het. Julle moet daardie boek lees. Dan sal julle sien dié man het ’n plan.
“Nou wil julle iemand hierheen bring wat Frans praat. Hy kan nie Engels praat nie, die spelers verstaan nie Frans nie. Nee, dit kan nie werk nie.”
