Binnelandse sake gaan 301 bykomende immigrasiebeamptes aanstel

Leon Schreiber, minister van binnelandse sake.
Leon Schreiber, minister van binnelandse sake. Foto: AFP.

Die departement van binnelandse sake gaan 301 bykomende immigrasiebeamptes werf, wat Suid-Afrika se kapasiteit vir immigrasiehandhawing met 35% sal verhoog.

Die departement het tans slegs 868 immigrasiebeamptes wat immigrasiewetgewing regoor die land moet toepas. Die nuwe aanstellings sal die totaal tot 1 169 beamptes verhoog.

“Ten spyte van die ernstige hulpbronbeperkings waarmee die departement steeds te kampe het, is herprioritiseringswerk gedoen om die werwing van hierdie groep bykomende immigrasiebeamptes moontlik te maak,” het die departement Maandag in ’n verklaring gesê.

Die inisiatief vorm deel van breër hervormings deur die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber, om ’n veilige, digitale en doelgerigte immigrasiestelsel te bou.

“Met die aanstelling van 301 bykomende immigrasiebeamptes maak ons nou een van die grootste beleggings in immigrasiehandhawingskapasiteit in jare, wat ons vermoë versterk om die oppergesag van die reg te handhaaf en die integriteit van Suid-Afrika se immigrasiestelsel te beskerm,” het Schreiber gesê.

Die nuwe beamptes sal verantwoordelik wees vir die toepassing van die immigrasiewet, die opsporing en inhegtenisneming van onwettige buitelanders, ondersoeke na mensehandel en migrant-smokkelary, asook ondersteuning van deportasieprosesse. Hulle sal ook inspeksies saam met ander wetstoepassingsagentskappe uitvoer en waar nodig in hofverrigtinge verskyn.

Die werwingsveldtog word saam met ander inisiatiewe en die Nasionale Tesourie geïmplementeer om bykomende hulpbronne vir digitale transformasie en kapasiteitsbou te verseker.

Die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, Adrian Roos, het gesê die uitbreiding toon die departement se verbintenis tot die herstel van die oppergesag van die reg en die versterking van immigrasiehandhawing.

Die nuwe beamptes sal help om misdaadsindikate te ontwrig, korrupsie wat met onwettige immigrasie verband hou aan te spreek, en te verseker dat buitelandse burgers wat in Suid-Afrika woon, aan immigrasiewette voldoen.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie