Hoofsaaklik buitelanders onder 12 slagoffers van dodelike veldbrand in Spanje

Skermgreep van video: Olive Press Newspaper
Skermgreep van video: Olive Press Newspaper

Fernando Grande-Marlaska, Spanje se minister van buitelandse sake het Vrydag bevestig dat die 12 slagoffers wat in een van die land se dodelikste veldbrande in onlangse geskiedenis gesterf het, hoofsaaklik buitelanders is.

Nagenoeg 500 brandbestryders wat deur Spanje se militêre nood-eenheid bygestaan word, veg verbete teen die brand wat Donderdag in ‘n toeristestreek in die suide van Spanje uitgebreek het. Vier van die slagoffers het in hul voertuig doodgebrand en die vermoede bestaan dat hulle Britse burgers was. Ongeveer 800 mense is reeds uit die gebied ontruim en 23 word nog as vermis beskou.

Juan Manuel Moreno Bonilla, premier van die Andalusië-streekregering, het bekend gemaak dat die 12 slagoffers onherkenbaar verbrand het.

Die owerhede het gesê inwoners van die witgekalkte dorpie Bedar is aangesê om óf die aanbevole ontruimingsroete te volg, óf in hul huise te bly aangesien die brand so naby was.

Die feit dat sommige inwoners nie hierdie aanbevelings nagekom het nie, “het moontlik in sommige gevalle tot die tragiese lewensverlies gelei”, het Moreno gesê.

In hierdie stadium is daar reeds sowat 3 150 hektaar deur die veldbrand vernietig. Aangevuur deur rukwinde van sowat 50 kilometer per uur, het die brand teen ‘n buitengewone tempo versprei en binne net twee uur 15 kilometer gevorder, het Moreno gesê.

Die vermoede bestaan dat die veldbrand begin is deur ‘n kragkabel wat losgekom het en in die droë struikveld beland het. Spanje het die afgelope paar jaar al hoe meer gereelde en langdurige hittegolwe beleef, met temperature wat dikwels 40 °C oorskry. Dit skep gunstige toestande vir grootskaalse veldbrande.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie