Junior Bokke mik na Wêreldkampioenskap-eindstryd, maar sal sterk Engelse eers moet klop

Junior Bokke se Luan Giliomee.
Junior Bokke se Luan Giliomee. Foto: Facebook.

Die Junior Springbokke sal Maandagaand met vertroue die halfeindstryd van die o. 20-Wêreldkampioenskap teen Engeland in Georgië aanpak, maar weet ook dat duidelik verbeterings nodig is ná uitdagende groepwedstryde.

Die o. 20-kaptein, Siphosethu Mnebelele, het gesê die groep het die opbou geniet, maar sal nou gereed wil wees vir ’n sterk Engelse span wat reeds sy gehalte in die toernooi bewys het.

“Ons is ’n baie hegte groep,” het Mnebelele vanuit ’n hotel in Tbilisi gesê. “Ons het die voorbereiding geniet en dit was lekker om saam tyd deur te bring gedurende die toernooi. Ons fokus was daarop om goed voor te berei vir Engeland.”

Die Junior Bokke het hul plek in die halfeindronde bespreek nadat hulle ’n drukbelaaide laaste groepwedstryd teen Wallis gewen het, ’n wedstryd wat volgens Mnebelele die intensiteit van ’n uitspeelwedstryd gehad het.

“Ons het geweet as ons teen Wallis verloor, sou ons kanse om die uitspeelrondes te haal, ernstig in gevaar wees. Daarom het ons dit soos ’n uitspeelwedstryd benader,” het hy gesê.

“Daar was aanvanklik ’n paar senuwees, maar ons is gelukkig om spelers te hê wat hul rolle verstaan en op hul verantwoordelikhede gefokus bly. Dit het ons gehelp om weer beheer oor die wedstryd te neem.”

Daardie lesse het die span se benadering hierdie week gevorm. Mnebelele sê die Junior Bokke weet hulle kan dit nie bekostig om Engeland vroeg momentum te gee in ’n halfeindstryd waar klein oomblikke deurslaggewend kan wees nie.

“Ons fokus is op onsself,” het die Junior Bok-kaptein gesê. “Ons moet van die eerste fluitjie af goed begin, ons rolle uitvoer en nie toelaat dat Engeland momentum opbou nie. As ons van die afskop af ons werk na die beste van ons vermoë doen, gee ons onsself die beste kans op sukses.”

Die veelsydige agterspeler Luan Giliomee, wat ná sy afwesigheid teen Wallis terugkeer op heelagter vir die halfeindstryd, sê die spelers het die spelplan ten volle aanvaar en is gereed om by te dra waar ook al hulle benodig word.

Giliomee, ’n Springbok Sewes-speler wat reeds losskakel, skrumskakel en heelagter vir die o. 20-span gespeel het, sê hy sal speel waar die span hom nodig het.

“Die afrigters het altyd ’n plan vir die span en dit is belangrik dat elke speler daarby inval,” het hy gesê. “Of dit heelagter of op ’n ander posisie is, ek is gelukkig om by te dra waar ek kan en te doen wat die beste vir die span is.”

Engeland het deur ’n moeilike groep gevorder en sal na verwagting fisiek speel, oor ’n sterk skopplan beskik en oral op die veld gevaar inhou. Mnebelele sê die Junior Bokke het respek vir die uitdaging, maar bly gefokus daarop om ’n vertoning te lewer wat hul eie identiteit weerspieël.

“Engeland is ’n span van gehalte en hulle het deur die hele toernooi gewys waarom hulle die halfeindronde gehaal het,” het Mnebelele gesê.

“Vir ons bly die fokus op ons voorbereiding en daarop om ’n vertoning te lewer wat wys wie ons as span is. Ons sien uit na die geleentheid en is vasbeslote om ’n resultaat te lewer waarop ons trots kan wees.”

’n Oorwinning oor Engeland sal die Junior Bokke se 10de agtereenvolgende sege by die o. 20-Wêreldkampioenskap wees, net een minder as Nieu-Seeland se rekord van 11 opeenvolgende oorwinnings tussen 2016 en 2018.

Maandag se halfeindstryd skop om 18:30 (SA tyd) af en word regstreeks op SuperSport uitgesaai.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie