Staat van beskuldiging: Uitspraak voorbehou in Ramaphosa interdiksaak

Pres. Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS.

Die lot van pres. Cyril Ramaphosa se politieke toekoms hang in die weegskaal nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof Donderdag, 16 Julie, uitspraak voorbehou het in sy aansoek om sy afsettingsproses te staak.

Die volle bank regters, onder leiding van regter Andre le Grange, het ná ’n  twee-dae lange verhoor op 15 en 16 Julie aangedui dat hulle beoog om teen volgende week ’n finale beslissing te lewer. Ramaphosa het die hof genader vir ’n interdik om die werk van die parlementêre art. 89-afsettingskomitee op te skort.

Hy wil hê die proses moet stilstaan hangende ’n afsonderlike geregtelike hersiening van die omstrede Sandile Ngcobo-paneelverslag, wat vir September geskeduleer is.

Die paneel het vroeër bevind daar is ’n prima facie-saak teen die president rakende die diefstal van buitelandse valuta op sy Phala Phala-wildsplaas. Adv. Wim Trengove, die president se regsverteenwoordiger, het Donderdag buite die hof aangevoer dat die Ngcobo-verslag op hoorsê gebaseer is.

Volgens Trengove sal die voortsetting van ’n openbare parlementêre ondersoek die president onherstelbare skade en vernedering berokken, terwyl die grondslag van die verslag self regtens gebrekkig is. 

Die aansoek is teengestaan deur die parlement en verskeie opposisiepartye. Adv. Dali Mpofu, wat namens die uMkhonto weSizwe-party (MK-party) en die United Africans Transformation (UAT) verskyn het, het geargumenteer dat die hof nie die jurisdiksie het om in te gryp in die terrein van die wetgewer nie. Die EFF het die hof aangemoedig om “in sy eie baan te bly”.

Thoko Didiza, die speaker, het aangedui dat sy haar by die hof se uitspraak sal berus. Die komitee beplan om reeds volgende week virtueel te vergader om die aanstelling van getuienisleiers te bespreek. Hulle sal hul ondersoek slegs staak indien die hof volgende week die interdik formeel aan die president toestaan.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie