Hier is die hoofnuus wat vandag, 16 Julie, gebeur het. Dié artikel bevat die vernaamste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
- Die DA, onder leiding van Geordin Hill-Lewis en Helen Zille, sal môre verskeie plekke in Johannesburg besoek wat die ‘ernstige gevolge van langdurige diensleweringsmislukkings en wanadministrasie’ uitbeeld en met inwoners in gesprek tree en uiteensit hoe die DA dié stad se verval wil omkeer.
- Adjunkminister van hoër onderwys, Yusuf Cassim, dring aan op sistemiese verbeterings om die finansieringsvertragings uit die weg te ruim terwyl duisende studente by instellings soos Unisa steeds groot frustrasie weens aanhoudende betalingsagterstande by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) ervaar.
- Die dodetal van die winter-inisiasieseisoen vanjaar het nou tot 51 gestyg, met owerhede wat agt bykomende sterftes aangemeld het.
- Veteraanakteur Seputla Sebogodi is in die ouderdom van 62 oorlede ná komplikasies wat met diabetes verband gehou het.
- Lions bevestig dat Hyron Andrews, Boeta Chamberlain, Sikhumbuzo Notshe, Daniel Kasende, JP du Preez en Asad Moos amptelik by die Johannesburgse span gaan aansluit.
- o. 20-Wêreldkampioenskap: Junior Bok-breier Kevin Foote kies agsteman Wasi Vyambwera in beginspan, terwyl Gert Kemp later as plaasvervanger sal opkom en Risima Khosa sal op flank begin.

- Die Wes-Kaapse hooggeregshof het uitspraak voorbehou in pres. Cyril Ramaphosa se dringende aansoek om die parlement se staat van beskuldiging teen hom te stop.
- Die staat het die aanklagte teen 1 van die beskuldigdes, sakeman Etienne van der Walt, teruggetrek in die saak van die 2023-edelsteenroof in Killarney, waar edelstene ter waarde van R14,9 miljoen gesteel is.
- EMPD-beampte Adrian Mackenzie en voormalige EMPD-beampte Kersha-Leigh Stols is elk op borgtog van R5 000 vrygelaat in hul aandeel in die Killarney-edelsteenroofsaak.
- Voormalige minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, het weens mediese redes nie voor die WVK-ondersoek verskyn nie en sy verskyning is tot ’n latere datum uitgestel.
- Die saak teen ’n 35-jarige man wat in verband met die moord op die EFF se Tshwane-sekretaris, Monica Dube, in hegtenis geneem is, is tot volgende Donderdag uitgestel, ná hy vlugtig vandag in die Cullinan-landdroshof verskyn het.
- Mpumalanga-polisie het verdagtes in hegtenis geneem met onwettige sigarette ter waarde van bykans R2 miljoen.
- Inwoners van Mabopane, noordwes van Pretoria, het die strate ingevaar om teen ongedokumenteerde buitelanders te betoog.
- Die Jhb-hooggeregshof het die Stad Johannesburg en burgemeester Dada Morero tydelik verbied om strukture by Marble Towers in die middestad te sloop of daarmee in te meng, ná ’n dringende aansoek deur die gebou se eienaar, Goldenrod Group.

Oorsee
- Minstens 11 mense is dood en 19 beseer nadat ’n brand by ’n weeshuis in Algerië uitgebreek het.
- Grootskaalse betogings het vanoggend in verskeie stede in Oekraïne uitgebreek ná die verwydering van die gewilde minister van verdediging, Mykhailo Fedorov.
- Die Duitse voedselafleweringsgroep Delivery Hero het aangekondig dat dit ingestem het om deur die Amerikaanse ritreus Uber oorgeneem te word in ’n transaksie ter waarde van €12,7 miljard (ongeveer R267 miljard).
- Die Oekraïense parlement het die uitvoerende hoof van die staatsolie- en gasmaatskappy Naftogaz, as eerste minister aangestel.
- Nieu-Seelandse owerhede het ’n tsoenamiwaarskuwing uitgereik nadat ’n aardbewing van 5,9 op die Richterskaal die land getref het.
- Britse kommunikasietoesighouer Ofcom het ’n ondersoek van stapel gestuur om vas te stel of die sosialemediaplatform TikTok genoeg doen om kinders ingevolge Britse wetgewing teen skadelike inhoud te beskerm.

- Spoedvraat Louis Rees-Zammit terug in Wallis-beginspan vir Springbok-kragmeting.
- Teheran het die VSA van ’n ‘barbaarse aanval’ beskuldig nadat ’n kankersentrum in die suidweste van Iran ontruim moes word weens aanvalle in die omgewing.
- Google het die EU daarvan beskuldig dat dit Europeërs se privaatheid in gevaar stel nadat Brussel die Amerikaanse tegnologiereus beveel het om hul data te deel en Android vir mededingende KI-dienste oop te stel.
- Die VSA het ’n nuwe invoertarief van 25% op verskeie produkte uit Brasilië aangekondig en hulle van onbillike handelspraktyke en -beleid beskuldig.
