Dis nie ’n toertjie nie, maar ’n bewys van wat moontlik is.
Só sê die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, in die bekendstellingsvideo van die Blou Brigade.
Dié groep, bestaande uit vrywilligers, is die DA se eie diensleweringspan wat vir 17 wyke die dringende hulp bied wat dit nodig het.
“Terwyl die Stad Johannesburg toelaat dat sinkgate motors insluk, vullis op straathoeke ophoop en basiese dienste in duie stort, het ons besluit om op te hou wag,” sê Zille.
Volgens haar wil dié groep wys wat moontlik is met pure politieke wilskrag, ’n voorsmakie van wat moontlik kan wees indien hulle tydens die plaaslike verkiesings in November die meerderheid stemme in Johannesburg kry.
“As ons dit van buite kan doen met vrywilligers, voertuie en politieke wilskrag, stel jou net voor wat ons met die volle mag van plaaslike regering kan doen: Begrotings, personeel en die gesag om amptenare aanspreeklik te hou en Johannesburg weer aan die werk te kry,” verduidelik Zille.
“Só lyk toewyding. Só behoort verandering te lyk. Gee ons die meerderheid, en dit sal die norm wees, nie die uitsondering nie.”
