Inwoners gons oor Weskus se vermeende ‘aardbewing’

Lambertsbaai.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Sosiale media het die afgelope week behoorlik gegons oor ’n “aardbewing” wat die Weskus die afgelope Sondagaand, 12 Julie, blykbaar vir ’n kort tydperk plek-plek geskud het.

Chantel Britz, ’n inwoner van die Lampiesbaai-woonbuurt in St. Helena­baai, se Facebookplasing oor haar ­ervaring het spoedig dosyne kommentare van Weskussers, wat húl ervarings en menings oor die “aardbewing” gedeel het, tot gevolg gehad.

Chantel en haar man, Ruben, het die voorval aan Weslander, ’n susterpublikasie van Die Papier, bevestig en sê hulle het nog nooit so iets beleef nie. “Ons het omstreeks halfelf die aand in Lampies-rylaan, naby Golden Mile in St. Helenabaai, skielik gevoel hoe ons huis se hele dak begin skud. Vir ’n paar oomblikke het ek nie geweet wat aangaan nie. Dit was ’n baie vreemde en skrikwekkende ervaring.”

Volgens Chantel het sy kort daarna, teen ongeveer 22:40, gesien hoe mense van oral oor in die Weskus begin kommentaar lewer op haar plasing en dat hulle dit ook gevoel en gehoor het.

“Tot dusver was daar berigte van Yzerfontein, Langebaan, Jacobsbaai, Saldanha, Vredenburg, Paternoster en St. Helenabaai. Dit wys net hoe wyd die aardbewing gevoel is. Gelukkig lyk dit of almal veilig is, maar dit is gewis iets wat ons nog lank sal onthou.”

Volgens van die kommentare blyk dit ‘n ligte aardbewing het in die Saldanha­baai- munisipale gebied voorgekom.

“Ek het dit duidelik in Saldanha gevoel en dit het minute geduur.”

“Het net ’n geluid gehoor soos iets wat ontplof.”

“My vensters het geruk en my hond Moxie was vreesbevange.”

“Was erg in Paternoster vir hele paar sekondes.”

“Ons huis se ligte het geflikker.”

“Dit het geklink soos ’n ontploffing.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie