Patrice Motsepe verwerp praatjies dat hy president wil word

Sakeman Patrice Motsepe.
Sakeman Patrice Motsepe. Foto: AFP.

Die mynmagnaat Patrice Motsepe (64) het ’n streep deur bespiegeling getrek dat hy Suid-Afrika se president wil word en Woensdag in Johannesburg aan joernaliste gesê Suid-Afrika het hom nie in die politiek nodig nie.

Die hoof van Afrika-sokker en swaer van president Cyril Ramaphosa is herhaaldelik in mediaberigte genoem as ’n moontlike kandidaat om Ramaphosa op te volg wanneer sy tweede en laaste termyn in 2029 eindig.

“Daar is baie bekwame en goeie leiers in hierdie land,” het Motsepe gesê

Geen Fifa-ambisies

Die CAF-president het ook voorstelle van die hand gewys dat hy die rol van Fifa-hoof by Gianni Infantino wil oorvat wanneer sy termyn eindig. Hy sê hy bly verbind tot Afrika-sokker totdat sy huidige termyn in 2029 verstryk.

“Ek het geen begeerte of ambisie om Fifa-president te word nie. Dit interesseer my nie,” het hy gesê.

Wie gaan Ramaphosa in die ANC opvolg?

Die vraagstuk binne die regerende ANC wie Ramaphosa gaan opvolg raak al meer dringend namate die president deur ‘n moeilike tweede termyn worstel. Die party se swakste verkiesingsuitslag nóg het hom gedwing om ’n koalisieregering te vorm, terwyl hernude aandag aan die diefstal van $4 miljoen (ongeveer R71 miljoen) by sy private wildsplaas die druk verder verhoog het.

Die konstitusionele hof het in Mei beslis dat ’n staat van beskuldiging teen die president heropen kan word nadat die ANC soortgelyke pogings in 2022 hokgeslaan het.

Toenemende politieke druk

Motsepe het die idee afgemaak dat politieke groeperings hom kan oorreed om sy besluit oor ’n toetrede tot die politiek te verander.

“Die enigste probleem wat ek het, is dat ek nie deel van enige groep is nie,” het hy gesê. “Dis hoekom selfs sommige van my vriende dinge sê wat nie vleiend is nie, omdat iemand vir hulle gesê het iemand anders gaan my dalk oorreed om van mening te verander.”

By die ANC se Nasionale Algemene Raad in Desember het sommige afgevaardigdes T-hemde met die slagspreuk “PM27” gedra, as verwysing na ’n moontlikheid dat Motsepe vir president sal staan in 2027.

Motsepe het die mynmaatskappy African Rainbow Minerals gestig en besit dit steeds. Volgens Forbes is hy die agtste rykste persoon in Afrika, met ’n geraamde persoonlike fortuin van $3,5 miljard (ongeveer R62 miljard). Hy het in 2012 die eerste swart Suid-Afrikaanse miljardêr geword. Hy besit ook Mamelodi Sundowns, wenners van die CAF-kampioeneliga.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie