Geen openbare deelname-proses is gevolg voordat stootskrapers grond omgedolwe het vir die nuwe woonbuurt oorkant Roodepan en langs die oorvol besoedelde Kamfersdam-pan nie. Só het Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, Woensdag, 22 Julie, in die hooggeregshof in die stad getuig.
Voorts moes hy ook erken dat die munisipaliteit die uiteindelike magtiging oor die ontwikkeling het, wat goedgekeur is ondanks die feit dat die Homevale-rioolsuiweringsaanleg jare lank al nie funksioneel is nie.
Hy is as verweerder en rekenpligtige amptenaar gedagvaar om te getuig in die siviele eis van Brenda Booth van Northern Cape Ranchers (NCR) en ’n benadeelde grondeienaar waar Kamfersdam geleë is.
Die saak is reeds twee jaar gelede aanhangig gemaak omdat massas ongesuiwerde water uit die wanfunksionele aanleg in Kamfersdam en op Booth se grond stroom en haar grond verswelg. Haar huis kan binne ’n jaar ook onder water wees, vrees sy.

Hofbevele verontagsaam
Ondanks hofbevele waarin die munisipaliteit ’n plan in werking moes stel om die volume water wat hy in Kamfersdam vrylaat, te beperk en die aanleg op te knap, is dit nie gedoen nie.
Ingevolge die hofbevel wat Booth op 22 Maart 2024 bekom het, moes die munisipaliteit binne 60 dae ’n tegniese verslag by die hof indien. Hierin moes die munisipale bestuurder verduidelik wat die stappe is om binne 120 dae die e.Coli-vlakke binne aanvaarbare vlakke te verlaag, en om nie meer as 30 megaliter per dag, behalwe water los te laat, en geen rou riool in Kamfersdam pomp nie.
Booth sou ook insae in die verslag hê en kommentaar lewer. Sou almal daarmee tevrede wees, sou dit ’n hofbevel word of bygewerk word.
Die vereiste tegniese verslae is of nie ingedien nie, of was van swak gehalte met geen doelwitte en sperdatums nie.
