Die tweede ronde van die Curriebeker vind hierdie naweek plaas.
Die aksie skop Vrydagmiddag af met ’n kragmeting tussen die voorlopige voorlopers, die Cheetahs en Sharks XV, in Bloemfontein. Afskop by Toyota-stadion is om 17:00.
Die aandag skuif dan oor na Saterdag wanneer twee wedstryde plaasvind: Die Lions pak die Pumas op Ellispark (15:00), waarna Griekwas die Bulls XV in Kimberley verwelkom (17:05).
Die tweede ronde word Sondag in Wellington afgesluit wanneer Boland en hul bure, Stormers XXIII, vanaf 15:00 by Boland-stadion speel. Al die wedstryde word regstreeks op SuperSport uitgesaai.
Vrydagaand se wedstryd in Bloemfontein tussen die Cheetahs en Sharks XV beloof om een vir die boeke te wees. Hoewel dit nog vroeg in die seisoen is, is albei spanne tans op die boonste plekke op die puntelys ná oorwinnings in die eerste ronde. Die Sharks het die Pumas met 26-24 geklop, terwyl die Cheetahs die Lions met 29-27 verslaan het.
Saterdag se eerste wedstryd bied die Lions die kans om onmiddellik terug te bons ná verlede naweek se noue nederlaag in Bloemfontein wanneer hulle die Pumas in Johannesburg aanpak.
Saterdag se tweede wedstryd word in Kimberley gespeel, waar Griekwas en Bulls XV albei op soek sal wees na hul eerste oorwinning van die veldtog ná nederlae in die openingsronde.
Afskop is om 17:05 en, gebaseer op verlede naweek se vertonings sowel as hul oortuigende 42-21-sege in Pretoria verlede seisoen, sal die verdedigende kampioene van Kimberley as gunstelinge begin.
Hulle sal egter nie ’n Bulls XV-span vol opwindende jong talent onderskat nie.
Die laaste wedstryd van die naweek vind Sondagmiddag in Wellington plaas, waar Boland en Stormers XXIII albei mik na ’n tweede agtereenvolgende oorwinning ná hul openingswedstryde. Hulle is tans onderskeidelik derde en vierde op die puntelys.
Stormers XXIII het dié wedstryd verlede seisoen gemaklik in Kaapstad gewen, maar Stefan Ungerer se span kan ’n vurige ontvangs in Wellington verwag, waar ’n volgepakte Boland-stadion na verwagting ’n groot hupstoot aan die tuisspan sal gee.
