Hier is die hoofnuus wat vandag, 24 Julie, gebeur het. Dié artikel bevat die vernaamste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.
Plaaslik
PKTT in KZN het bekende tradisionele geneser van KwaMashu in hegtenis geneem omdat hy na bewering moorde op ANC-jeugliga-lid Thamsanqa Kingdom Gcabashe en eThekwini-metropolisiebeamptes Lindokuhle Madonsela & Ndumiso Thusi beplan het
Suliman Carrim se versoek vir privaatverhoor vanweë vertroulikheid van mediese inligting deur Madlanga-kommissie geweier onder meer omdat hy glo by sosiale geleenthede in NW opgemerk is
Ford herroep talle voertuie in hul Ranger- en Everest-reeks wat van 11 Julie 2018 tot 28 Februarie 2020 regoor SA verkoop is, insluitend uitvoere na Botswana, Lesotho en Eswatini
Die voorsitter van die Parlement se art. 89-aanklagkomitee, Makashule Gana, sê die komitee sal eers die Wes-Kaapse hooggeregshof se volledige uitspraak bestudeer voordat daar besluit word oor die pad vorentoe, nadat die hof pres. Cyril Ramaphosa se dringende aansoek toegestaan het om die openbare verhore oor die Phala Phala-skandaal voorlopig te stuit
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beslis dat die parlement se art. 89-aanklagkomitee nie voorlopig met sy Phala Phala-verhore teen president Cyril Ramaphosa mag voortgaan nie
’n 71-jarige man, Mbangiseni Ndlovu, is in aanhouding geplaas nadat hy na bewering onwettige vuurwapens vervaardig en aan buitelandse burgers in Durban verkoop het
Die moordsaak van ‘DJ Warras’, oftewel Warrick Stock, sal na verwagting vandag na die hooggeregshof in Johannesburg terugkeer, waar Victor Majola en Armando Pacula as beskuldiges sal verskyn
Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting vandag uitspraak lewer oor president Cyril Ramaphosa se poging om die parlement se art. 89-aanklagkomitee se verrigtinge oor die Phala Phala-plaas-skandaal hok te slaan
Amerika het amptelik 2,5% addisionele invoertariewe op SA gehef, met die tariewe op ons goedere wat dus nou in totaal 12,5% is
David Masondo, adjunkminister van finansies, bedank as voorsitter van die raad van die Openbare Beleggingskorporasie, een van talle mense wat die laaste paar dae dié korporasie verlaat het
Angelo Agrizzi, fluitjieblaser en voormalige bedryfshoof van die omstrede Bosasa, het versoek om voor die Madlanga-kommissie te verskyn en sê hy is gereed om nuwe beëdigde getuienis voor te lê waarin hy beweer daar was politieke inmenging in die ondersoek en vervolging van die Bosasa-korrupsieskandaal
Internasionaal
Russiese aanvalle beskadig Letland se Ere-konsulaat in ooste van Oekraïne, 6 burgerlikes dood en talle ander gewond, EU-leiers en Baltiese lande veroordeel aanval en sê dis doelbewuste aanval op burgerlikes en diplomatieke infrastruktuur
Akteurs Ben en Casey Affleck se ma, Chris (83), het volgens huldeblyk deur die broers haar maandelange stryd teen kanker op 2 Junie verloor
Die Hof vir Sportarbitrasie (CAS) het Vrydag aangekondig dat Senegal se appèl teen die besluit om die AFCON-titel van die land weg te neem en aan Marokko toe te ken, op 8 Oktober aangehoor sal word
Duitsland se nasionale spoorwegoperateur, Deutsche Bahn, gaan teen 15 Oktober alkoholverbod by al sy 5 400 treinstasies instel, met uitsonderings van kroeë en restaurante by stasies, vanweë toename in geweld waar te veel alkohol vloei
Motorbom wat aansienlike skade kon aanrig deur Ierse polisie naby N-Ierse grens onderskep, vrou (in haar twintigs) en man (in sy veertigs), in hegtenis geneem
Nóg kopseer vir TikTok ná Brussel ook bevind privaatheid van kinders se rekeninge oop vir volwassenes, stel kinders bloot aan kuberafknouery, ongewenste kontak en onaanvaarbare gedrag
Sonam Wangchuk wat Indië se jeuggedrewe “Cockroach”-betogings momentum gegee het in een van die volgehouste uitdagings aan land se leierskap in jare, het sy 26-dae lange hongerstaking beëindig
Minstens 19 000 in Madrid-streek ontruim of opdrag gegee om in hul huise te bly vanweë die ergste veldbrand in die streek se geskiedenis
Iran se weermag sê dit het Vrydag hommeltuigaanvalle op verskeie Amerikaanse militêre basisse en fasiliteite in Bahrein, Jordanië en Koeweit uitgevoer as vergelding vir die jongste Amerikaanse aanvalle op die Islamitiese republiek
Die president van Oekraïne, Wolodimir Zelenski, het Vrydag aanvalle op die Russiese e-handelsreus Wildberries verwelkom en beweer die maatskappy voorsien hommeltuigonderdele aan Rusland se weermag vir sy oorlog in Oekraïne
Die Europese Unie sê die nuwe Amerikaanse invoertariewe is in ooreenstemming met vorige ooreenkomste
Jürgen Klopp is as die nuwe hoofafrigter van Duitsland se nasionale mansokkerspan aangewys nadat Julian Nagelsmann ná ’n teleurstellende Wêreldbeker-veldtog afgedank is
Rusland sê dit het oornag 571 Oekraïense hommeltuie afgeskiet, een van die grootste swerms wat Kiëf nog gestuur het terwyl dit sy langafstandaanvalle verskerp
