Die burgerregte-organisasie AfriForum sê hy is gereed vir sy hofsaak teen die naamsverandering van Graaff-Reinet nadat die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se regspan aangedui het dat minister Gayton McKenzie en die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad die aansoek gaan teenstaan.
Volgens ‘n verklaring wat AfriForum op 20 Julie uitgereik het, is die organisasie se aansoek reeds in Mei ingedien nadat daar geen reaksie op sy regsbrief waarin teen die naamsverandering beswaar gemaak is, ontvang is nie.
Die verklaring sê die aansoek volg op McKenzie se aankondiging in die Staatskoerant op 6 Februarie dat Graaff-Reinet voortaan as Robert Sobukwe Town bekend sal staan.
AfriForum wys daarop dat ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad 118 van 1998, besware teen ‘n voorgestelde naamsverandering binne 30 dae ná publikasie ingedien moet word.
Die organisasie sê hy het reeds op 16 Februarie ‘n regsbrief aan McKenzie gestuur waarin beswaar teen die naamsverandering gemaak is.
Nadat geen antwoord ontvang is nie, het AfriForum sy aansoek in Mei by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien.
Beleid oor plekname
Volgens AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, is die organisasie se beswaar onder meer gegrond op die Oos-Kaapse provinsiale beleid oor plekname, wat bepaal dat plekke met historiese betekenis slegs in uitsonderlike gevalle hernoem behoort te word.
Bailey sê AfriForum meen geen sodanige uitsonderlike omstandighede bestaan in die geval van Graaff-Reinet nie, ‘n dorp met ‘n geskiedenis wat oor 240 jaar strek.
Sy sê die organisasie is van mening dat die naamsverandering nie voldoende rekening hou met die bewaring van die dorp se historiese en kulturele erfenis nie.
AfriForum voer verder aan dat ‘n omvattende studie bevind het dat die meerderheid inwoners teen die naamsverandering gekant is.
Vals indrukke en ‘n mors van geld
Die organisasie argumenteer ook dat die proses om die dorp se naam te verander ongrondwetlik is en meen die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se eie proses om die betrokke wetgewing te hersien, ondersteun dié standpunt.
“Naamsveranderings het ‘n maklike manier geword waarop politici die valse indruk skep dat hulle daadwerklik optree, terwyl hulle in werklikheid die plekke waarvan die name verander word én die land se kultuurhistoriese erfenis minag.
“Hulle mors belastingbetalers se geld wat eerder tot voordeel van inwoners aangewend behoort te word. Ons kan dit nie langer toelaat nie, veral nie wanneer ‘n pleknaam met die historiese betekenis van Graaff-Reinet op die spel is nie.”
