4 dood, 4 beseer in skietvoorval naby Stellenbosch

Ter illustrasie. Foto: Derwin Edwards/pexels.com
Ter illustrasie. Foto: Derwin Edwards/pexels.com

Die gemeenskap van Kayamandi word steeds deur dodelike vuurwapengeweld geteister nadat nog ‘n noodlottige skietvoorval Sondag 26 Julie in die informele nedersetting in Stellenbosch plaasgevind het.

Polisie in die Wes-Kaap ondersoek ‘n massaskietery waarin vier mense doodgeskiet en nog vier beseer is, onder wie twee polisielede.

Provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel André Traut, het gesê polisielede van Stellenbosch het omstreeks 17:35 op ‘n skietvoorval in Sewendelaan, Kayamandi, gereageer.

“Hulle het ‘n onbekende man aangetref wat noodlottige skietwonde opgedoen het,” het Traut gesê.

“Terwyl hulle die misdaadtoneel hanteer het, het die lede verdere skote in die omgewing gehoor en onmiddellik gereageer. Toe hulle die gebied nader, het hulle gewapende verdagtes teëgekom wat op hulle losgebrand het. Die lede het teruggeskiet, waarna die verdagtes van die toneel gevlug het.”

Vier dood, vier beseer

Tydens die skietgeveg is twee polisielede en twee burgerlikes – ‘n man en ‘n vrou – gewond en na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir behandeling.

Traut het gesê vier onbekende mans is later met noodlottige skietwonde aangetref.

“‘n 9 mm-vuurwapen is op een van die misdaadtonele gevind en vir forensiese ontleding gekonfiskeer. Misdaadtoneelkenners het deur die nag gewerk om die tonele te verwerk en bewyse in te samel om die ondersoek te ondersteun.”

Waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor Luyanda Damoyi, het die aanval ten sterkste veroordeel.

“Hierdie sinnelose geweld het verskeie lewens geëis en polisielede sowel as onskuldige lede van die gemeenskap beseer.”

“Ons sal alle beskikbare hulpbronne aanwend om die verantwoordelikes te identifiseer en in hegtenis te neem. Mense wat polisielede aanval en ons gemeenskappe terroriseer, sal die volle mag van die reg ervaar.”

Geen inhegtenisnemings nie

Traut het gesê die motief vir die skietery vorm deel van die ondersoek en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Die afgelope paar maande is verskeie dodelike skietvoorvalle reeds in die Kayamandi-gebied aangemeld.

Lees die volledige artikel op Nova News


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie