‘Onmiddelike ontheffing’ vir Johnson, maar geen goue handdruk nie

Adv. Andrea Johnson
Adv. Andrea Johnson

President Cyril Ramaphosa het Maandagoggend die bedanking van advokaat Andrea Johnson as hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC) aanvaar.

Die brief

Johnson het Sondag versoek om met “onmiddellike ingang” uit haar amp onthef te word ten spyte daarvan dat sy volgens haar kontrak drie maande kennis moet gee. In die brief het sy aangedui dit sal “die instellings en die land die beste dien”.

“Dit is ‘n moeilike versoek om te rig, gegewe die absolute liefde en toewyding waarmee ek die amp van ondersoekdirekteur van IDAC beklee het,” het sy geskryf.

Sy het ook onthul dat sy reeds om aftrede aansoek gedoen het nadat sy die ouderdom van 55 bereik het, maar gevrees het dat dié proses die onderwerp van regsgedinge teen sowel die Presidensie as die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV) kan word.

Onmiddellike ontheffing

“Advokaat Johnson het haar versoek om onmiddellike ontheffing uit haar amp aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings en president Ramaphosa gerig,” het die Presidensie Maandagoggend in ‘n verklaring bevestig.

Die president het Johnson bedank vir haar diens aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Die president verseker die leierskap en personeel van die NVG van die regering se onwrikbare steun vir hul werk in die stryd teen misdaad en korrupsie,” lui die verklaring.

Ongemagtigde ondersoeke

Dit het intussen by die Madlanga-kommissie aan die lig gekom dat Johnson ‘n ondersoek na agt senior Misdaadintelligensie-beamptes en ‘n burger gemagtig het sonder dat daar ‘n regsgrondslag daarvoor was.

Haar versoek volg op ‘n moeilike verskyning verlede week voor die Madlanga-kommissie van ondersoek, waar sy aan intense ondervraging onderwerp is.

Johnson se getuienis voor die kommissie het vrae laat ontstaan oor die eenheid se besluitneming.

Sy het onder skoot gekom nadat sy toegegee het dat IDAC die hoof van Misdaadintelligensie se Tegniese Ondersteuningsdienste, brigadier Dineo Mokwele, op grond van verkeerde inligting in hegtenis geneem en vervolg het.

Johnson het aanvanklik beweer Mokwele kon gebruik gewees het om die plundering van Misdaadintelligensie-fondse te vergemaklik. Kommissaris Sandile Khumalo het dié bewering egter tydens haar getuienis bevraagteken.

Feroz Khan

Toe Johnson aanvanklik getuig het, het sy haar op haar grondwetlike reg teen selfinkriminasie beroep toe sy uitgevra is oor bewerings dat sy besonderhede uit die ondersoekdossier per e-pos aan maj.genl. Feroz Khan gestuur het. Sy het aangevoer dat die kommissie se feitevasstellingsbevoegdhede nie daardie grondwetlike beskerming ophef nie.

Sy het erken dat die Nasionale Vervolgingsgesag dit oorweeg of sy in verband met die bewerings rakende Khan strafregtelik vervolg moet word.

Geen goue handdruk nie

Minister van Justisie Mmamoloko Kubayi het op #TheCMShow gesê Andrea Johnson sal nie ‘n goue handdruk ontvang nie, maar sy sal haar pensioen behou.

“Ons kan dit nie weerhou nie. Ek kan nie enige betaling weerhou van dit waarvoor sy gewerk het nie. Daar is geen regsgrondslag daarvoor nie. Ek sou die land se wette oortree,” het Kubayi gesê.

Terug in die hof

Johnson sal Maandag haar getuienis voor die Madlanga-kommissie voortsit.

Bronne: EWN, Daily Maverick, Independant Online


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie