Outa verwelkom kabinet se besluit om geldigheid van bestuurlisensies tot 10 jaar te verleng

Bestuurslisensie.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die kabinet se besluit verwelkom om die geldigheid van Suid-Afrika se bestuurslisensies van 5 na 10 jaar te verleng.

Die voorgestelde verandering sal op ligte motorvoertuiglisensiekodes van toepassing wees.

Outa het reeds sedert September 2020 gevra of die tydperk waarin bestuurlisensies geldig is, met nóg vyf jaar verleng kan word. Toe het die Covid-19-beperkings lisensiedienste ernstig ontwrig en het ’n vinnig toenemende agterstand met lisensies ’n daadwerklike probleem geraak.

“Hierdie besluit is byna ses jaar laat, maar dit is ’n oorwinning vir motoriste en gesonde verstand. Die regering het uiteindelik aanvaar dat dit tyd en geld mors om motoriste elke vyf jaar deur ’n ondoeltreffende hernuwingsproses te dwing sonder dat dit ons paaie veiliger maak,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het gesê dat swaar kommersiële en openbare vervoervoertuie steeds aan hernuwingsiklusse van twee of vyf jaar onderhewig sal wees.

Die geldigheid van 10 jaar vir bestuurslisensies is twee jaar langer as die agtjaar-tydperk wat die departement van vervoer voorheen voorgestel het.

Hoewel die pandemie die krake in die sisteem duideliker uitgelig het, het Outa se navorsing getoon dat die vyfjaar-hernuwingsiklus onnodige druk plaas op ’n stelsel wat reeds met ondoeltreffendheid, korrupsie en swak dienslewering sukkel.

Outa het bestuurslisensie-geldigheid in 35 lande ondersoek en ’n gemiddelde geldigheidstydperk van 8,5 jaar gevind, met tydperke wat tussen drie en 20 jaar wissel.

Volgens Outa het hul internasionale navorsing geen bewyse gevind dat langer geldigheidstydperke vir gewone bestuurslisensiekaarte met hoër padsterftesyfers verband hou nie. Dit is doeltreffende wetstoepassing, goed opgeleide en verantwoordelike bestuurders, padwaardige voertuie en veiliger paaie, wat uiteindelik die grootste kenmerke van beter padveiligheid is.

“Die regering het heeltemal te lank geneem om op te tree, ondanks die bewyse en die bevoegdheid om hierdie onnodige administratiewe las te verwyder. Ons is egter bly dat die regte besluit uiteindelik geneem is,” sê Duvenage.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie