Oogpunt: Die gevoel onder Afrikaners

Debat.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die afgelope week of twee was daar heelwat energie los rondom ’n berig wat News24 as ondersoekende joernalistiek geplaas het oor die geldsake van die burgerlike organisasie AfriForum.

In beginsel is dit altyd beter as instansies, wat geld by die publiek insamel, se sake meer in die ope is.

In 2019 het ’n groep inwoners van Orania by Beeld gaan kla oor hoe hul sake bestuur word. Die gevolg van ’n berig, deur die uwe, het tot ’n reorganisasie van die leierskap daar gelei. Al was dit meer administratiewe slordighede as korrupsie.

Daar moet gewaak word teen die mode om joernaliste by News24 of enige ander plek voor die voet as “aktiviste met slegte bedoelings” af te maak, bloot omdat daar ongemak is met wat hulle publi­seer. Of omdat mense se menings verskil.

Verskeie News24-joernaliste het op die ondersoekende frontlinie ’n groot rol gespeel om korrupsie te onthul en die Jacob Zuma-heerskappy en die ANC op hul knieë te dwing.

Dit sluit eietydse joernalistieke helde soos Karyn Maughan in, wat buite die gerief van slimpraatjies agter Facebook-skuilname of die veiligheid van voorstedelike woonkamers, privaat deur Zuma vervolg is. En sy horde, wat selfs lewensbedreigend op haar toegesak het, in die oë moes kyk.

Pas op met al die aanvalle, op die boodskapper, om die indruk te skep soos geuiter deur die Shakespeare-karakter in Hamlet, koningin Gertrude: “The lady doth protest too much, methinks.”

Lees ’n mens wat tans oor AfriForum gepubliseer is, is daar hoogstens (beoogde) verleentheids­waarde oor wie hoeveel verdien, wie se salaris steeds geheim is en hoeveel aan administrasie, reise en onthale bestee word. Dit teenoor die minder geld aan projekte. Heelwat kan moontlik binne die opera­sionele werklikheid van die soort organisasies verduidelik word, al sou almal nie saamstem nie. Tog wonder ’n mens of die kool die sous werd was vir Waarheid Eerste, wat die ondersoek gefinansier het.

Luidens die doelwitte is die instansie daarop gerig om die demokrasie te versterk deur wanbestuur en korrupsie aan die kaak te stel. Is dit wat hulle gehoop het om te kry? Is dit werklik so hoog op die prioriteitslys van wat alles skeefloop in ons land?

Die rokie wat ’n mens sien, is die onverkwiklike hondegeveg wat woed tussen die uiterste pole van Afrikaanse meningsgroepe. Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteitsgroep, se destydse stelling, dat die tegniese kollege Sol Tech se bouwerk in die Covid-tyd “binne die tydraamwerk en binne begroting afgehandel is”, is een van die oorsake van die skaamkwaadheid by sommige.

Dit is omdat hy die kernopdrag van ’n beter lewe vir almal en die nasionale groeiplan daardeur beskryf. Maar die geld is deur die gewaande bevryders gesteel.

Indien sy groep dan werklik die Trump-administrasie se Afrikaner-­agenda bepaal het, is dit gewoon onwaar dat alle Afrikaners daardeur gedefinieer word. (Roelf Meyer sê dit is nie hulle nie.) Al wil die ander dit so graag as skietgoed gebruik.

Hoe dit ook al sy, daar is ’n groei­ende gevoel onder baie Afrikaners en Afrikaanssprekendes dat hulle, of hul toekoms, nie deur die oor-en-weer moddergooiery gedefinieer word nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos