Die Griekwas het die Cheetahs Vrydagaand in Kimberley hul eerste Curriebeker-nederlaag van die seisoen toegedien met ’n taai 24-21-oorwinning in ’n opwindende wedstryd.
Dit was van die eerste oomblik af duidelik dat albei spanne ’n aanvallende spelpeil wou handhaaf. Dit was egter die voorspelers wat die eerste hou ingekry het, met die Cheetahs wat eerste punte aangeteken het nadat hulle ’n reeks strafskoppe afgedwing het.
Slot Simon Miller het van ’n strafskop neffens die doellyn ’n verdoelde drie gedruk wat die Cheetahs reeds in die agtste minuut met 7-0 laat voorloop het.
Nadat die Griekwas verskeie verdere Cheetahs-aanvalle afgeweer het, het hul trefkrag al hoe meer in die wedstryd begin toeneem, met hul skrum wat ’n stewige grondslag gelê het. Hulle het die telling in die 21ste minuut gelyk gemaak toe haker Tiaan Lange ná nóg ’n oorheersende skrum ’n paar fases later oor is om dit 7-7 te maak.
Die tuisspan het in die 34ste minuut die voortou geneem toe Carl Els ná 14 fases van volgehoue Griekwas-druk daarin geslaag het om die bal oor die doellyn te kry nadat hy aanvanklik oor die doellyn opgehou is. George Whitehead kon nie die drie verdoel nie, maar die Griekwas het met 12-7 voorgeloop.
Net voor rustyd het ’n oomblik van briljantheid die Griekwas se voorsprong vergroot toe Bobby Alexander ’n perfekte dwarsskop gevang het. Die Cheetahs-verdediging het geen antwoord op sy spoed gehad nie en hy het weggehardloop om te druk, wat die Griekwas met ’n 17-7 voorsprong rustyd toe gestuur het.
Die tweede helfte het slordig begin, maar die Cheetahs het die agterstand in die 51ste minuut tot 17-14 verklein toe hulle die Griekwas ná ’n dryfmaal 23 meter teruggedwing het voordat Marko Janse van Rensburg oor die doellyn is.
Die volgende telling was deurslaggewend, en dit het die Griekwas s’n geword. Lange het sy tweede drie aangeteken ná nóg ’n geduldige dryfmaal en die voorsprong in die 62ste minuut tot 24-14 gerek.
Die Cheetahs het egter nie tou opgegooi nie, en vleuel Prince Nkabinde het in die 72ste minuut deur die Griekwas-verdediging gesny om te druk. Cohen Jasper het die doelskop oorgesit om die agterstand tot slegs drie punte, 24-21, te verklein.
Die Griekwas het egter onder geweldige laat druk vasgestaan om die oorwinning te beklink.
Punte
Griekwas 24 (17)
Drieë: Tiaan Lange (2), Carl Els, Bobby Alexander
Doelskoppe: George Whitehead (2)
Cheetahs 21 (7)
Drieë: Simon Miller, Marko Janse van Rensburg, Prince Nkabinde
Doelskoppe: Cohen Jasper (3)
