Die tafel is so ietwat meer as vorige jare vir die jaarlikse Paarlse interskole gedek. Dié kragmeting is ook deel van die King Price Derby-reeks.
Almal weet niemand wil die gunsteling vir die dag se kragmeting wees nie, maar dit is ’n voldonge feit dat Paarl Gimnasium vanjaar die voorste skolespan in Suid-Afrika is.
Die Gimmies het slegs in hul eerste wedstryd van die seisoen teen Stellenberg met 19-20 naelskraaps die knie gebuig.
Die Hoër Jongenskool Paarl het vanjaar al vier keer teen onderskeidelik Garsfontein (28-31), Affies (37-40), Grey Kollege (21-31) en Paul Roos Gimnasium (22-28) die onderspit gedelf.
Die Bloedworse moet dus vanjaar die gunsteling wees, maar hulle was verlede jaar ook die gunsteling en is toe met 33-35 in die Faurestraat-stadion afgestof. Selfs nie ’n ongelooflike vertoning van 23 punte deur een van hul beste spelers nog – Markus Muller – kon ’n nederlaag verhoed nie.
Dan, geweeg aan die twee skole se verteenwoordiging by die Cravenweek in Gqeberha vroeër vanjaar, het die Gimmies hier ook ’n oorhand.
Nie minder nie as ses Gimmies – Ethan Barker (senter), Mickyle Booise (skrumskakel), Jean Dreyer (slot), Hendré van Zyl (agtsteman), Charles Whitehead (haker) en Jayden Steyl (stut) – was in die Westelike Provinsie se uitsoekspan. Almal van hulle buiten Steyl was verlede jaar ook in die interskole-kragmeting.
Booise, Barker en Dreyer het ook die SA Skole-span gehaal, met Whitehead en Van Zyl wat die SA Skole A-span verteenwoordig het.
Die Galpille het slegs een speler, Dirk Farmer (vleuel), in die Streeptruie se span gehad.
Sewe Boishaaiers was wel in die WP se naasbestes, met Liam de Villiers (skrumskakel), Chris Nel (agtsteman), Luhan Hattingh (flank), Max Malan (stut), AD Faul (slot), Henré Valentyn (flank) en Danté Davids (heelagter), wat almal in die Baai in aksie was. Valentyn sal egter nie in die interskole op die veld wees nie. Die sterke derduiwel Malan was die enigste Boishaaier wat een van die twee nasionale spanne gehaal het.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
