Bulls-breier Johan Ackermann het beslis nie gejok toe hy gesê het hy wil die sterkste moontlike span teen die All Blacks inspan nie. Dít, en dat hy selfs die nuwe spelers ’n kans sal gee.
Sodoende is losvoorspeler Hanro Liebenberg, wat voorheen vir die Leicester Tigers in Engeland uitgedraf het, en losskakel Curwin Bosch, wat die afgelope twee jaar in Frankryk rugby gespeel het, ook in die beginspan ingesluit. Dié gedugte span sal Saterdag teen die All Blacks op Loftus Versfeld te staan kom as deel van die Greatest Rivalry-reeks.
Die span kombineer Springbok-gehalte met terugkerende ervaring en opkomende Curriebeker-talent in hul poging om moontlik die eerste SA Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-span te word wat die All Blacks kan oorwin tydens dié toer.
Eers was dit die Stormers wat 21-38 in Kaapstad die knie moes buig, en toe oorrompel die Kiwi’s die Sharks 54-0 in Durban.
Kaptein Marcell Coetzee lei oudergewoonte die Bulls wat vier Springbokke met toets-ervaring insluit, terwyl Willie le Roux, wat al 101 toetse vir die Bokke gespeel het, die spel van agter moet beheer.
Debatte sal beslis rondom Ackermann se keuse met Bosch op losskakel vlamvat. Hoewel hy beslis oor die talent beskik om ’n wedstryd te beheer, het hy al voorheen deurgeloop dat hy ook sy span wedstryde gekos het. Bulls-aanhangers, en beslis ook Bok-liefhebbers, sal beslis hoop dat die eersgenoemde in dié wedstryd waar sal wees.
Gelukkig het hy die VRK-uitblinker Embrose Papier langs hom om sake agter te beheer.
Die geskiedenis is egter stewig aan die All Blacks se kant. In vier vorige ontmoetings tussen die spanne sedert 1949, het Nieu-Seeland drie keer gewen. Die Bulls se enigste oorwinning bly ’n beroemde een, toe Noord-Transvaal die toeriste in Augustus 1976 met 29-27 geklop het. Wanneer die twee spanne dié naweek weer kragte meet, sal dit byna presies 50 jaar wees sedert daardie geskiedkundige uitslag.
Bulls-span
15 Willie le Roux, 14 Thaakir Abrahams, 13 Stedman Gans, 12 Harold Voster, 11 Stravino Jacobs, 10 Curwin Bosch, 9 Embrose Papier, 8 Jeandre Rudolph, 7 Hanro Liebenberg, 6 Marcell Coetzee (captain), 5 JF van Heerden, 4 Ruan Vermaak, 3 Francois Klopper, 2 Juann Else, 1 Alulutho Tshakweni.
Plaasvervangers: 16 Jaundre Schoeman, 17 Sti Sithole, 18 Khuta Mchunu, 19 Reinhardt Ludwig, 20 Mpilo Gumede, 21 Paul de Wet, 22 Katlego Letebele, 23 Hakeem Kunene.
