Dit is heel gepas dat die huidige toer van die All Blacks die Greatest Rivalry gedoop is, want die wedywering tussen die Nieu-Seelanders en die Springbokke kan beslis beskou word as die grootste en mees tradisieryke onder alle rugbylande.
My ervaring het 77 jaar gelede begin. As negejarige seun het my vader, Louw Joubert, my saam geneem na die eerste toets van die 1949 All Black-toer in Suid-Afrika op Nuweland. My herinnering is dat die All Blacks in hul swart gewaad reusagtig gelyk het in verhouding met die Springbokke in hul groen truie. As skoolseuns het ons in daardie dae op plat bankies langs die veld gesit met geen omheining tussen ons en die spelers nie. Een keer het ’n Springbok die All Black-vleuel Peter Henderson hier vlak voor my oor die kantlyn geduik. ’n Foto daarvan waarin ek nogal verskrik voorgekom het, het later in die naweekbylae van die Cape Times verskyn – helaas, het ek dit nie meer nie.
Die toets sal ook onthou word vir die feit dat Okey Geffin vyf strafdoele oorgeskop het sodat die Springbokke met 15-11 kon wen. Geffin, terloops, was ’n voorryman. Vandag is dit feitlik ongekend dat ’n voorspeler die skoppe na die pale sal waarneem. Geffin se skopwerk het ’n groot rol gespeel in die Bokke se reeksoorwinning van 4-0.
Agterna sou die Nieu-Seelanders kla dat die Suid-Afrikaanse skeidsregters hulle benadeel het – neutrale blasers sou eers later jare in toetsrugby ingespan word. Daarby moes die All Blacks ’n paar van hul beste spelers – Maori’s – by die huis los weens die destydse regering se apartheidsbeleid. Dit was dan ook die rede waarom die All Blacks nie die Maori-strydkreet, die haka, gedurende hierdie toer gebruik het nie.
Na 1949 wou die All Blacks wraak neem, en dit kon hulle doen gedurende die Springbokke se toer in 1956 na die land van die Silwervaring. Tuis, voor die dae van televisie, was ons afhanklik van radio-uitsendings waarvoor ons in die middel van die nag moes opstaan, en van koerantberigte. Suid-Afrikaners was geskok deur foto’s van die lelike moddervelde in Nieu-Seeland, maar wat die meeste ontstel het, was ’n foto wat die bebloede Jaap Bekker gewys het wat onder die vuiste van ’n All Black moes deurloop.

All Blacks kies ’n bokser
Nieu-Seeland het die eerste toets van die reeks gewen, maar daarna het die Springbokke teruggeveg en as oorwinnaars in die tweede een van die veld gestap. Hierop het die All Black-keurders ’n plan beraam om die sterk SA-voorry van Chris Koch, Bertus van der Merwe en Jaap Bekker te neutraliseer. Hulle het ’n gewese Nieu-Seelandse bokskampioen, Kevin Skinner, gekies om die taak te verrig, nie net as skrumwerker nie, maar ook om sy vuiste teen die Bokke te gebruik. Eers het hy Koch ’n paar keer bygedam, daarna het hy aan Bekker se kant van die voorry gaan skrum sodat hy hom ook kon bykom. Die foto van Bekker se gesig het ’n aaklige verhaal vertel. Nieu-Seeland het hierdie reeks met 3-1 gewen.
Dawie de Villiers
Dit was eers in 1960 dat ek weer die All Blacks eerstehands sou ervaar, die keer in die tweede toets van daardie reeks op Nuweland. Nadat die Bokke die eerste toets gewen het, het hulle gesukkel in die tweede wat ’n onaantreklike affêre was wat die All Blacks oorheers het deur met 11-3 te wen. Ek het die toets gekyk saam met my destydse skool- en rugbymaat Dawie de Villiers en terwyl ons na die eindfluitjie saam met die stil en stroewe skare na die stasie loop, skreeu ’n grondboontjieverkoper: “Vanaand is die Boerehart weer seer.” Inderdaad.
Min sou ons weet dat die einste Dawie vyf jaar later Suid-Afrika sou aanvoer op die Springbok-toer in Australië en Nieu-Seeland nie. Soos gewoonlik was so ’n toer ’n groot storie wat ek hierdie keer uit ’n nuusoogpunt kon ervaar omdat ek lid van Die Burger se sportredaksie was. Ons moes die berigte ontvang en persklaar maak wat ons verteenwoordigers in Nieu-Seeland, Herman le Roux en Roelf Theunissen, per kabelgram na Suid-Afrika gestuur het. Omdat kabelgramme so duur was – vir elke woord moes betaal word – het die skrywers “cable lese” gebruik – onvoltooide en kortaf sinne wat ons weer in Kaapstad moes oorskryf in vol sinne.
Vir party van die toetse het Die Burger Saterdagoggende ’n spesiale uitgawe uitgegee. Dit het beteken dat ons omtrent 3:00 op kantoor moes wees om na die toets te luister en aantekeninge te maak indien die kabelgramme uit Nieu-Seeland nie vinnig genoeg opdaag om die spesiale uitgawe te haal nie. My taak was ook om onmiddellik na die eindfluitjie sekere kenners te bel om hul menings oor die toets te kry. Van hierdie kenners wat ek gebel het, onthou ek, was die einste Chris Koch wat nou afgetree het, asook oom Flappie Lochner, ’n Springbok-keurder.
Daardie reeks het ons ook met 1-3 verloor, maar in 1970 in Suid-Afrika het Dawie en sy span die bordjies verhang deur met 3-1 te wen. Ek was ’n afwesige “toeskouer” vir hierdie reeks aangesien die koerant my na Engeland verplaas het as Londense verteenwoordiger. Tog het ek die All Blacks in hierdie tydperk te siene gekry in toetse teen Wallis op Cardiff Arms Park en op Twickenham teen Engeland. Die hoogtepunt van die toer vir my was in Februarie 1973 toe ek na Parys gereis het om te sien hoe die Franse die All Blacks met 13-6 pak gee.
Die dag toe WP hulle wen
’n Ander hoogtepunt was drie jaar later in Suid-Afrika met die koms van die volgende All Black-toerspan. Dit was nie soseer die feit dat die Bokke die reeks met 3-1 gewen het wat my bygebly het nie, maar die oorwinning van 12-11 wat die Westelike Provinsie onder aanvoering van Morné du Plessis oor die toerspan behaal het. Dit was beslis een van die beste wedstryde ooit op Nuweland waar Robbie Blair ’n drie uit die hoek verdoel het voordat die eindfluitjie geblaas het.
Na jare van sportisolasie was ek in 1994 bevoorreg om as rugbyskrywer die eerste Springboktoer sedert 1981 in Nieu-Seeland vir ons koerante (Beeld, Die Burger, Volksblad) te dek. Eerstehands kon mens ervaar hoe fanaties die Nieu-Seelanders oor hul gunstelingsport was. Maar daar was ook teleurstellende oomblikke, veral die voorval in die tweede toets in Wellington waar die voorryman Johan le Roux die All Black-kaptein, Sean Fitzpatrick, aan die oor gebyt het. Dit was ’n slapelose nag vir die media, want daar is vergaderings en nogmaals vergaderings gehou om oor Le Roux se lot te beslis. Om 4:00 is ons geroep na ’n perskonferensie om die nuus te ontvang dat Le Roux huis toe gestuur word.
Die All Blacks het twee van die drie toetse gewen (22-14, 13-9), terwyl die laaste een met 18-18 gelykop geëindig het – ’n toets wat die Bokke eintlik moes gewen het. Daardie toer het die grondslag gelê vir die Springbokke se oorwinning oor die All Blacks die volgende jaar in die Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark.
Wat ’n reis saam met die Bokke en die All Blacks. Nou wag ons vir die volgende episode.
- Joubert is ’n afgetrede assitent-redakteur en onder meer sportjoernalis van Die Burger. Hy woon op Onrusrivier.
