Nee, nie sodat kelnerin Suzi wéér die All Blacks kom bedien voor ’n Ellispark-toets nie.
Dit is om teenstrydighede op te klaar wat voor die 1995-Wêreldbekereindstryd in die Crowne Plaza-hotel in Johannesburg gebeur het. Boonop het enige geleentheid om haar oor voedselvergiftiging te vervolg, reeds verval.
Laurie Mains, destydse All Blacks-afrigter, hou vol die span is deur hul tee, koffie en water vergiftig. Die spanbestuurder Colin Meads reken dit was verslane melk of seekos eerder as gif.
Destydse hotelpersoneel hou vol sommige spanlede het uitgeglip en elders gaan seekos eet. “Dit was Kentucky Fried Chicken wat die uitglippers gaan eet het, maar hulle was nie siek nie,” sê Meads.
Rory Steyn, destyds pres. Nelson Mandela se veiligheidshoof, is gesekondeer om die span se veiligheid te koördineer.
Hy reken daar was beslis ’n doelbewuste vergiftiging.
Mandela en Steyn? Dit is waarom Inkvlieg reken Suzi moet kom bieg . . .


Sot
Ben Smith, Kiwi-rugbygifpen, spog hoe die All Blacks se saamgeflanste en vlugflou-spanne oor ons top- provinsiale spanne geloop het. Daarom reken hy dis ’n vals argument dat die SA spanne se onttrekking uit Superrugby Kiwi-rugby verswak het.
Ai, ou.
Spanne sonder hul top-Bokke en buite speelseisoen is geen maatstaf nie.
Wag vir Ellispark. (Of praat ons te vinnig?)
Slimkop
Daniel Gallen. Oorspronklik van Suid-Afrika, maar nou rugbyskrywer en lektor in sportgeskiedenis in Londen: “Die Bokke het die All Blacks lank gejaag, maar nou het Rassie se span hulle ingehaal en verbygegaan . . .”
Dit is maar aan ’n rugbyslimpen soos dié se geskrifte waaraan vasgehou moet word, terwyl spanning opbou na die 2026 Slag van Ellispark. Suid-Afrikaanse braaivure sal vroeg-vroeg al aangesteek word.
