Kan Grey die bordjies teen Paul Roos verhang?

Christian le Roux in aksie vir Paul Roos Gimnasium.
Christian le Roux in aksie vir Paul Roos Gimnasium. Foto: Thys Lombard.

Grey Kollege se eersterugbyspan sal Saterdag meer as ’n bietjie Grey-magic nodig hê indien hy die eerste keer sedert 2019 daarin wil slaag om Paul Roos Gimnasium hier in die Markötter-­stadion om te dop.

Die twee spanne se wedstryd in die King Price-derby-reeks skop Saterdag om 14:00 in die Eikestad af.

Grey se losskakel, Darius Erwee, moes verlede jaar in Bloemfontein saam met die vleuel Eddie Mabena vir ’n stukkie briljantheid sorg om uiteindelik met 26-25 as die wenners van die veld te stap.

Die Maroen Masjien se tuisveld het egter die afgelope paar jaar een van sy grootste bondgenote in veral die interskole teen Grey geword. Die span van Stellenbosch het met die twee spanne se laaste ontmoeting hier Grey met 36-3 sy grootste loe­sing in sy geskiedenis toegedien.

Paul Roos was in die vorige kragmeting in 2022 ook gemaklik met 34-19 baas.

Die tuisspan sal egter Saterdag sonder drie van sy staatmakers – Tiaan Basson (senter), Travis Pheiffer (losskakel) en Werner de Bruin (flank) – moet klaarkom.

Die trio sal Saterdag vir die twee nasionale o.18-spanne teen onderskeidelik Frankryk en Engeland op die veld draf.

Basson was die Maroen Masjien se kaptein, terwyl Pheiffer as gene­raal ook ’n reuseleemte sal laat. Boonop het De Bruin ­vanjaar­ voorlangs meestal die vonk verskaf om Paul Roos se vuur te stook.

Grey het ook spelers in die twee SA spanne met Lamla Mgedezi (heelagter) en Niel du Randt (agtsteman).

The Rugby Factory se Top-10

  1. Paarl Gim
  2. Garsfontein
  3. Stellenberg
  4. Paul Roos
  5. Affies
  6. Paarl Boys High
  7. Grey College
  8. Monument
  9. Hilton College
  10. Outeniqua

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos