Hennie Koortzen: Die mikrofoon bly spesiaal

Die All Blacks het die haka verlede Saterdagaand weer met passie op Loftus Versfeld uitgevoer.
Die All Blacks het die haka verlede Saterdagaand weer met passie op Loftus Versfeld uitgevoer. Foto: Johan Orton, Gallo Images.


Ek is bevoorreg om as kommentator by die Greatest Rivalry-­reeks se vier toetse tussen die Springbokke en die All Blacks betrokke te wees.

Daar is net iets anders in ’n toets wanneer hierdie twee aartsvyande mekaar met wedersydse respek op ’n rugbyveld pak.

Om dit beter te verstaan, moet jy die rugbykultuur van Nieu-Seeland op ’n manier beleef. Ek het die geleentheid tydens die Wêreldbeker-toernooi in 2011 gehad en het met my aankoms om middernag in Auckland besef dat rugby daar ’n leefwyse is.

Ek is daar reeds deur die personeel op die lughawe besig gehou met rugbyvrae en praatjies. Hulle kon eenvoudig nie genoeg kry nie.

Vir die volgende ses weke het ek by skole en op sypaadjies deel geword van ’n leefwyse en ’n kultuur wat rugby in alle opsigte insluit.

By die skole waar ek ’n draai gemaak het, wou almal weet hoe skole in Suid-Afrika hul rugby speel en watter Springbokke waar op skool was.

Dit het gou duidelik geword dat die spel by hulle op skolevlak op presies dieselfde spelpatroon as dié van die All Blacks beoefen word.

By die skoenwinkel, die haarkapper en ander sakeonder­nemings waar ek ’n draai gemaak het, het die gesprek onmiddellik oor rugby gegaan.

Hulle wou weet wat ons voor en tydens wedstryde doen en wat ons eet en drink en wie my gunsteling-Springbok is.

Hulle wou ook gretig weet of ek ’n gunsteling-All Black het wat ek bewonder? Hulle het feitlik almal ’n Springbok of twee gehad wat hul helde was.

In elke gesprek het een aspek uitgestaan: Hulle bewonder die All Blacks, maar het respek vir die Springbokke en dit het nie vir ander lande soos Australië, Engeland, Ierland of Frankryk gegeld nie.

Wanneer ek vir my kommentaar vir Saterdag se eerste toets op Ellispark voorberei, doen ek dit met dieselfde respek vir die spel; respek vir die spanne wat vir die 55ste keer in Suid-Afrika teen mekaar op die veld gaan draf.

Om vir ure voor so ’n spesiale toets te gaan soek na inligting wat ver in die geheue van voormalige helde weggebêre is, is ’n voorreg.

Dit maak jou op ’n manier deel van nog ’n hoofstuk in die roemryke geskiedenis tussen ons twee lande.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos