Gewapende man in Robertson doodgeskiet

’n Polisievoertuig het vasgery in die struktuur waaruit Van Dalen geskiet het.
’n Polisievoertuig het vasgery in die struktuur waaruit Van Dalen geskiet het. Foto: Verskaf.

’n Swaarbewapende man wat inwoners van ’n plaas in Robertson glo nege maande lank geterroriseer het, is verlede Maandag in ’n skermutseling met die polisie doodgeskiet.

Cornelius van Dalen (40) is dood nadat hy tientalle skote op lede van die Spesiale Taakmag afgevuur het tydens ’n 24 uur lange beleg op die plaas Top View.

Karl Smith, die plaaseienaar, sê die dodelike konfrontasie het daardie vorige Sondagmiddag begin toe Van Dalen sonder waarskuwing op sy buurvrou se motor geskiet het. Niemand was in die voertuig nie. Smith het die polisie onmiddellik ontbied.

Drie polisievoertuie is beskadig toe Van Dalen op polisielede geskiet het nadat hulle op die plaas aangekom het. Die Spesiale Taakmag is daarna ontbied.

’n Lid van die taakmag is in die skouer gewond toe Van Dalen honderde skote afgevuur het. Die polisie wou ’n verklaring neem van die vrou wie se motor beskadig is en die voertuig as bewysmateriaal in beslag neem.

Polisielede het daarin geslaag om die vrou na haar motor te begelei, maar Van Dalen het weer op hulle losgebrand. Die verskrikte vrou het terug na haar woonstel gevlug. Die taakmag het daardie Maandagoggend omstreeks 02:30 tydelik onttrek.

Polisielede het hommeltuie gebruik om die uitleg van die plaas te bepaal, terwyl drie skerpskutters in bosse rondom Van Dalen se woning posisie ingeneem het.

Omstreeks 16:00 het taakmaglede twee vroue van die plaas gered terwyl Van Dalen aanhoudend op hulle geskiet het. Ongeveer 10 minute later het ’n gepantserde polisievoertuig die struktuur waaruit Van Dalen geskiet het, getref. Hy is noodlottig in die kop geskiet.

Van Dalen het die afgelope nege maande alleen op die plaas gewoon. Hy het daagliks ’n koeëlvaste baadjie gedra en ’n koeëlvaste voertuig bestuur. Volgens Smith het Van Dalen bure se motorbande stukkend gesny en gereeld mense daarvan beskuldig dat hulle hom wou vermoor.

“Hy het ons lewe hel gemaak,” het Smith gesê.

Brig. Novela Potelwa, ’n senior provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die skermutseling Sondagaand begin het en tot Maandagaand voortgeduur het. Die polisie het ’n aanvalsgeweer, ’n haelgeweer, twee pistole, ammunisie, vlae en notaboeke in beslag geneem.

Amptenare van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) is na die toneel ontbied. Ondersoeke duur voort.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos