Vier mans, onder wie ’n polisielid, word Dinsdag, 25 Augustus, weer in die Bellville-landdroshof verwag in verband met ’n beweerde afpersingsbedryf wat glo meer as 50 ondernemings in Kayamandi en Stellenbosch geteiken het.
Die beskuldigdes is Madada Sibango (53), sy seuns Sandile Sibango (28) en Yamkela Ronald Sibango (23), asook die sakeman Abdulahi Ali Mursal (48). Sandile Sibango is ’n polisielid.
Die vier staan tereg op aanklagte van afpersing, geldwassery en beweerde oortredings van ddie Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, (Poca).
Die polisie het hulle op Sondag, 16 Augustus, tydens ’n gekoördineerde operasie in Bellville in hegtenis geneem ná ’n ondersoek na afpersing in Kayamandi en Stellenbosch.
Hulle het op Dinsdag, 18 Augustus, die eerste keer in die Bellville-landdroshof verskyn. Die hof het die saak tot 25 Augustus uitgestel vir ’n amptelike borgtogaansoek en verdere ondersoek, terwyl die beskuldigdes in aanhouding bly.
Meer as 50 ondernemings glo geteiken
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevat die polisiedossier inligting dat Madada Sibango geld van meer as 50 Somaliese en Ethiopiese sake-eienaars wat in Kayamandi en Stellenbosch sake doen, afgepers het.
Mursal het glo gehelp deur vasgestelde bedrae geld op voorafbepaalde datums oor ’n tydperk van sowat ’n maand by die sake-eienaars in te vorder.
Die polisie het tydens die operasie ongeveer R120 000 kontant gekonfiskeer.
Beamptes het ook vier voertuie ter waarde van na raming R3 miljoen, asook selfone wat glo met die beweerde bedryf verbind word, in beslag geneem.
Verskeie vuurwapens is ook tydens die inhegtenisnemings gekonfiskeer.
Ondersoek strek oor twee jaar
Speurders van die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad het die operasie gelei, met ondersteuning van misdaadintelligensie-afdeling, die SAPD se hommeltuig-eenheid, die Nasionale Vervolgingsgesag, amptenare van die Stad Kaapstad en die Finansiële Intelligensiensentrum.
Die polisie het gesê die projek is twee jaar gelede van stapel gestuur om afpersingsverwante misdaad wat ondernemings in die Stellenbosch-gebied raak, te ondersoek.
Volgens Bongani Maqashalala, Wes-Kaapse speurhoof, het ondersoekers die netwerk, sy leierskapstruktuur en werkswyse geïdentifiseer voordat die groep geteiken is.
Die polisie het aangedui dat nog inhegtenisnemings kan volg namate die ondersoek voortduur.
Die vier beskuldigdes sal na verwagting Dinsdag om borgtog aansoek doen wanneer hulle weer in die hof verskyn.
