Vandag in die nuus

Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu.
Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, Cheslin Kolbe en Cobus Reinach. Foto: Paul Faith / AFP.

Hier is die hoofnuus wat vandag, 24 Augustus, gebeur het. Dié artikel bevat die belangrikste nuus wat plaaslik, in die sportwêreld en oorsee plaasgevind het.

Plaaslik

  • Rassie oor Pollard in beginspan bo Libbok én Sacha FM: ‘Handré het al onder geweldige druk vir ons [resultate] gelewer, en ons glo dat dit wat hy en Cobus aan die begin van die wedstryd kan bydra, tesame met die moontlikheid om Morné en Sacha later met hul verskillende speelstyle in te span, hierdie naweek tot ons voordeel sal wees.’
  • Sou Siya Kolisi dit suksesvol deur hierdie week se oefeninge maak, sal hy by Saterdag se beginspan vir die 2de toets teen die All Blacks ingesluit word, die mees ervare Springbokspan ooit om die veld te betree, met die beginspan wat altesaam 1 012 toetswedstryde agter hul name het.
  • Greatest Rivalry: Eers Damian de Allende tydens die 1ste toets en nou sal kaptein Pieter-Steph du Toit sy 100ste toets vir die Bokke speel hierdie Saterdag.
  • Bok-breier Rassie Erasmus: ‘ ’n Mens kon die teleurstelling op almal se gesigte sien ná Saterdag se wedstryd, en ons weet wat ons moet doen om hierdie week sterk terug te bons. Hoewel ons deeglik bewus is van die uitdagende taak wat voorlê, het ons hergroepeer en die aspekte van ons spel geïdentifiseer wat ons moet verbeter.’
  • 6 mense is gisteraand in 2 vermeende bendeverwante skietvoorvalle in Kaapstad oorlede, met die polisie wat drievoudige moorde in Athlone en Happy Valley naby Blue Downs ondersoek.
  • Greatest Rivalry: Agtsteman Francke Horn sal die Lions-span lei wat môreaand teen die All Blacks speel, met groot name soos Chris Smith, Henco van Wyk en Quan Horn wat in die agterlyn moet uitblink.
Springbok-losskakel Quan Horn.
Springbok-losskakel Quan Horn. Foto: Facebook.
  • Die verhoor van die voormalige eThekwini-burgemeester Zandile Gumede en 21 medebeskuldigdes op aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery is uitgestel nadat beskuldigde nommer 15, Bongani Dlomo, Saterdag deur ’n motor getref is terwyl hy in die Bluff-gebied gestap het.
  • Die DA het die ANC se verkiesingsmanifes wat dié party die naweek bekendgestel het as ‘onwaarskynlik en ongeloofwaardig’ bestempel en gesê die ANC kan nie vertrou word om die probleme op te los wat die party volgens die DA self veroorsaak het nie.
  • ’n Lasbrief vir die inhegtenisneming van die omstrede mediapersoonlikheid en musikant Molemo ‘Jub Jub’ Maarohanye is uitgereik ná hy versuim het om in die Germiston-landdroshof te verskyn op aanklagte van ontvoering, die aanranding van ’n pendeldiensbestuurder en die afvuur van ’n vuurwapen tydens ’n onderonsie in Junie.
Vusimuzi ‘Cat’ Matlala in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria.
Vusimuzi ‘Cat’ Matlala in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria. Foto: Gallo Images/Frennie Shivambu.
  • Volgens die regspan van die berugte Vusimuzi ‘Cat’ Matlala het probleme om met hom by die Kgosi Mampuru II-gevangenis te konsulteer, bygedra tot vertragings met die indiening van ’n laat beëdigde verklaring voor die Madlanga-kommissie.
  • Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het belowe dat die polisie die saak om die baasbrein agter die fluitjieblaser Babita Deokaran se sluipmoord te vind, as ’n prioriteit hanteer en alles in die stryd werp om dit op te los.
  • Die veroordeelde pedofiel Iain Wares sal na verwagting vandag in die landdroshof in Wynberg vir voorvonnis-betoë verskyn, met die 86-jarige voormalige onderwyser wat voorheen skuldig bevind is aan die seksuele misbruik van ’n leerling by ’n Kaapstadse skool in die 1980’s.
  • 7 werknemers van die Emfuleni-munisipaliteit verskyn vandag in die Vanderbijlpark-landdroshof op aanklagte van bedrog, diefstal en die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.

Oorsee

  • Die sokkerbal waarmee Diego Maradona sy berugte ‘Hand van God’-doel teen Engeland tydens die 1986-Wêreldbeker aangeteken het, is op ’n veiling vir £2,5 miljoen (sowat R54,6 miljoen) verkoop.
  • Die Verenigde Koninkryk sal voortgaan om verdedigingshulp aan Oekraïne te verskaf ondanks Rusland se dreigemente, het premier Andy Burnham vandag tydens ’n besoek aan Kiëf gesê, waar bondgenote byeengekom het om steun aan die land te bespreek.
  • Die Rooi Kruis het sy kommer uitgespreek nadat 6 werkers wat betrokke is by pogings om ’n dodelike Ebola-uitbreking in die DRK te bekamp, verlede week tydens aanvalle beseer is.
  • Nederland sal nie aan volgende jaar se Eurovision-liedjieskompetisie deelneem nie, het die land se openbare uitsaaier aangekondig en gesê die geleentheid kan weens verdeeldheid oor die oorlog in Gasa nie langer as neutraal beskou word nie.
  • Iran se departement van buitelandse sake het lande gewaarsku dat daar ‘gevolge’ sal wees indien hulle by die VSA se veldtog van ekonomiese druk teen die Islamitiese republiek aansluit.
  • Die nuwe Britse eerste minister, Andy Burnham, besoek vandag vir die eerste keer sedert hy in die amp getree het verlede maand die Oekraïne se hoofstad, Kiëf, het sy kantoor gesê, terwyl Oekraïne sy 35ste jaar van onafhanklikheid vier.
Andy Burnham en sy vrou, Marie-France van Heel, buite 10 Downing Street in Londen.
Andy Burnham
en sy vrou,
Marie-France van Heel, buite 10 Downing Street in Londen. Foto: Stefan
Rousseau, AFP.
  • Die Amerikaanse weermag sê dit het ’n aanval op ’n vermeende dwelmsmokkelboot in die Stille Oseaan uitgevoer waartydens 2 mense dood is.
  • Oman se minister van buitelandse sake, Badr al-Busaidi, sal môre na Iran reis, het Iran se departemnet van buitelandse sake gesê, terwyl Teheran en Maskat na maniere soek om die deurgang van skepe deur die Straat van Hormoes te reguleer.
  • Die Europese Unie het aangekondig dat nog €6,1 miljard (R113 miljard ) aan militêre hulp vir Oekraïne vrygestel is om die land se lugverdediging teen Russiese missielaanvalle te versterk.
  • ’n Afvaardiging van Japannese parlementslede het na China vertrek in ’n poging om betrekkinge te herstel ná opmerkings deur die Japannese 1ste minister, Sanae Takaichi, oor Taiwan wat Beijing ontstel het.
  • Beamptes in Nevada in die weste van die VSA het inwoners aangemoedig om hul huise te ontruim nadat ’n vinnig verspreidende veldbrand, aangevuur deur sterk winde, op die stad Reno afgestorm het, met sowat 42 000 mense wat reeds hul huise verlaat het.
  • Shein sal op 1 September op die Hongkongse aandelebeurs noteer, het die kitsmodekleinhandelaar aangekondig, in ’n lankverwagte beursnotering wat die groep op bykans $27 miljard sal waardeer.
  • Nieu-Seeland se regering sal Maandag wetgewing indien wat kinders jonger as 16 verbied om sosialemediaplatforms te gebruik, en sluit daarmee aan by ’n aantal lande wat jongmense van platforms soos Instagram en TikTok probeer weghou.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos