Vinnige Vyf!

Vinnige vyf!

Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:

Sampioene, rooi uie, hoenderborsies, korrelmosterd, room

Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:

Romerige mosterdhoender

Bestanddele:

Genoeg vir 2 (verdubbel maklik)

  • 200 g sampioene
  • 1 rooi ui, fyngekap
  • 2 hoenderborsies van ongeveer 120 g elk, in repies gesny
  • 2 e korrelmosterd
  • 60 ml room

Metode:

  1. Braai die sampioene in ’n droë pan tot hulle begin verkleur, roer gereeld.
  2. Voeg die ui en hoender by die sampioene, asook ’n eetlepel olyfolie. Roerbraai sowat 5 minute.
  3. Voeg die mosterd, room en 150 ml water by.
  4. Laat opkook, en prut totdat die hoender gaar is en die sous effens gereduseer het. Proe en geur na smaak met sout en peper. Sit voor saam met kapokaartappels of polenta.
  5. Resep uit Five Ingredients deur Jamie Oliver

Indien jy die kode in die koerant skandeer het, is hierdie jou drie variasies op die resep met dieselfde bestanddele:

Hoender-en-sampioenpasta

Voeg by: Pasta en parmesaankaas

  1. Kook 300 g pasta volgens die verpakking se aanwysings.
  2. Sny die twee hoenderborsies in repies en braai tot goudbruin en deurgaar. Skep uit die pan.
  3. Braai die gekapte rooiui en die sampioene tot verbruin en voeg 2 fyngekapte knoffelhuisies by.
  4. Voeg die room en mosterd by en laat prut vir ’n paar minute.
  5. Voeg die hoender weer by en roer die gaar pasta by. Roer 60 ml parmesaankaas by en sit dadelik voor.

Mosterdhoender met spek en ertjies

Voeg by: Ertjies en spek

  1. Braai 150 g gekapte spek tot bros, skep uit die pan en hou eenkant. Braai nou die hoender in dieselfde pan tot net-net gaar.
  2. Voeg die uie en sampioene by en braai tot sag.
  3. Roer die room en mosterd by, en dan die ertjies. Prut vir sowat 5 minute.
  4. Sprinkel die bros spek bo-oor en sit voor saam met rys.

Paprika-hoender

Voeg by: Gerookte paprika, hoenderaftreksel en knoffel, laat die mosterd weg

  1. Braai die hoender tot bruin en deurgaar, skep uit die pan.
  2. Braai die uie en sampioene tot goudbrui, voeg 2 fyngekapte knoffelhuisies by en sprinkel 2 t gerookte paprika bo-oor. Roerbraai nog ’n minuut tot geurig.
  3. Voeg 125 ml hoenderaftreksel en die room by, skep die hoender terug in die pan en prut tot die sous verdik. Sit voor saam met koeskoes.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos