Oogpunt: Politieke poppe dans in Pta

Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder.
Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder. Foto: Facebook / Grandi Theunissen.

Grandi Theunissen – tot onlangs die VF Plus se leier in ­Tshwane en uitgeskopte koukus­leier van die party in die metro – se oorlopery na die DA laat meer vrae as antwoorde.

Dit kan nie as ’n blote storm in ’n substreek-teekoppie afgemaak word nie. Die Afrikaanse voorstede van Tshwane is ’n belangrike hartland vir enige party wat in die groep wil steun werf, al is dit nie die enigste nie. Boonop is die koukus wat Theunissen gelei het by verstek een van die enjinkamers van die VF Plus, want dit is verreweg sy grootste.

Die intrige speel hom af teen die agtergrond van dié twee partye, maar veral die VF Plus, wat sedert die begin van die jaar bykans al hul propaganda-energie teen mekaar gerig het, eerder as teen die ANC – dit met karakters soos Renaldo Gouws (VF Plus) aanlyn aan die voorpunt. Eerder as stedelike verval en peperduur kragrekeninge, is John Steenhuisen, bek-en-klouseer en vele meer gebruik om die DA as die groot gevaar voor te hou – duidelik ’n soort erkenning dat die enigste manier hoe die VF Plus werklik kan groei, ten koste van die DA is.

Die skrilheid van die veldtog het kiesers werklik begin irriteer.

Om dus enige trane van veront­regting oor die DA se wins met Theunissen te stort, sou ’n ontkenning wees van die bed wat hulle self opgemaak het – ook die naïwiteit om te dink Theunissen se uitskoppery as koukusleier, deur die sentrale leierskorps, kon geheim gehou word.

Van die vrae wat ook ontstaan, is hoe groot die DA se politieke wins werklik is. Is Theunissen ’n ­bewese stads­leier wat betekenis­volle kiesersteun saam met hom gaan neem? Gaan nog van sy koukuslede volg (seker net dié wat poste kan kry, indien enige)?

Of is dit ’n geval van ’n verbitterde individu wat deur sy party geroskam is omdat hy teen ooreengekome beleid opgetree het?

Theunissen het tot nou geswyg oor sy besluit, om – anders as die DA – met die ANC in die metroraad saam te stem oor die ontwikkeling van grond in die voorstad Groenkloof.

Dit is ’n sensitiewe kwessie vir inwo­ners daar.

Of is Theunissen nog gebelg omdat hy nie die VF Plus se burgemeesterskandidaat kon word nie?

Of sy oorlopery dus enige bete­kenisvolle politieke impak gaan hê, is wat in die komende maande duidelik sal word. Vir nou is dit ten minste ’n groot politieke verleentheid vir die VF Plus en ’n politieke wins vir die DA.

Dié party se veldtog is juis daarop gerig om alleen ’n volstrekte meerderheid in Tshwane te kry.

Die meeste ondersteuners van albei partye en selfs dié wat ­tradisioneel tussen die twee met hul stemme beweeg, sal tereg hoop dat onmin tussen die twee nie ’n hooffokuspunt bly nie.

Die twee talentvolle burge­meesters­kandidate, Cilliers Brink (DA) en Willie Spies (VF Plus), sal in alle waarskynlik­heid ná stemdag ’n koalisie moet maak werk.

Soos voorheen hier bepleit, soek ons nou hul antwoorde oor hoe hulle die ANC se gemors doeltref­fend gaan ontstrengel – nie vae beloftes nie, maar aksieplanne met tydlyne.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos