Lang rye het vandeesweek by petrolstasies in Teheran gevorm nadat Amerika nuwe sanksies aangekondig het wat daarop gemik is om Iran tot oorgawe te dwing.
Washington het ses maande ná die begin van ’n oorlog teen Iran, wat in ’n dooie punt ontaard het, na ekonomiese drukmaatreëls gegryp.
Vredesamesprekings is tans tot stilstand gedwing en die strategiese Straat van Hormoes is steeds vir die meeste skeepsverkeer versper.
Scott Bessent, Amerika se finansiesminister, het Maandag planne uiteengesit vir die “ekonomiese verstikking” van Iran. Hy het gesê die doelwit is om “elke ekonomiese reddingslyn wat hierdie regime van tiranne onderhou, af te sny”.
Hoewel Iranse leiers dit afgemaak het – aangesien hulle reeds dekades lank sanksies verduur – vrees sommige inwoners van die hoofstad dat hulle die knyp sal voel: “Mense word benadeel, dié wat finansieel welaf is en dié wat finansieel swak is,” het die eiendomsagent Mehdi Yazdian (55) gesê, wat terselfdertyd die owerhede aangemoedig het om pryse te beheer.
“Ja, hierdie sanksies het ’n uitwerking, maar ons mense is natuurlik veerkragtig.”
Iran het reeds voor die oorlog met hemelhoë inflasie geworstel, wat ’n anti-regeringsprotesbeweging aangewakker het, wat in Januarie sy hoogtepunt bereik het.
Die owerhede het die beweging met ’n harde hand beantwoord, wat volgens buitelandse menseregtegroepe tot die dood van duisende mense gelei het. Die regering skryf die geweld toe aan “terroristiese dade” wat deur Amerika en Israel georkestreer word.
Die Engels-onderwyser Kia Farahani (45) het gesê soortgelyke onrus kan voorlê. “Ek is persoonlik glad nie bang vir oorlog nie, want dit is ons land,” het hy gesê.
“Maar ek dink hierdie oorlog sal meer ekonomies van aard wees en mense onder groot druk plaas, en nou kan daar dalk weer betogings uitbreek.”
Iran het ’n reeks teregstellings uitgevoer wat verband hou met die winterbetogings, wat die woede van pres. Donald Trump van Amerika ontlok het. Hy het gesê die land “maak betogers dood, selfs wanneer hulle nie betoog nie, op vlakke wat nog nooit tevore gesien is nie”.
“Dit is ’n humanitêre krisis van epiese afmetings en moet nou gestaak word,” het hy op Truth Social gesê. Beeldmateriaal van AFP het rye motors gewys wat by petrolstasies uitkring nadat die Iranse president se stafhoof gesê het dat petrolkwotas hersien sal word.
“Wat seker is, is dat die kwotas verminder sal word sonder om die prys te verander, maar enigiemand wat meer petrol as die kwota wil koop, sal ’n hoër prys moet betaal,” het Mohsen Haji-Mirzaei aan staatstelevisie gesê.
Met die aankondiging van die nuwe sanksies het Bessent gesê lande wat nie die Amerikaanse ekonomiese veldtog steun nie, sal “deel in die isolasie” van Iran.
Die tesourie het gesê uitgebreide sekondêre sanksies sal Iran se digitale bates, sowel as sy tegnologie-, goud-, lugvaart- en skeepvaartsektore teiken. Die maatreëls tref lande oor die wêreld heen, insluitend in die Verenigde Arabiese Emirate, Hongkong, China, Singapoer en Europa.
China, ’n sleutelverbruiker van Iranse olie, het verlede Dinsdag gesê dat hy die sanksies teenstaan en belowe om “alle nodige maatreëls te tref om sy eie belange te beskerm”.
