Die regering hou vol daarmee om pensioenfondse aan te moedig om in openbare infrastruktuurprojekte te belê. Daar is egter duidelike bewyse dat, aangesien dit openbare infrastruktuur is, hierdie beleggingsinteraksie met staatsamptenare noodsaak – wat almal ellendige prestasierekords het.
Van besondere kommer is die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se ongenoteerde portefeulje, wat die toneel was van uiters korrupte transaksies.
Dit het gelei tot verliese van miljarde rande. In die boekjare 2023-’24 was daar ’n onderprestasie van ongeveer 4,9%.
Ander staatsverwante fondse met soortgelyke markblootstelling het beduidend beter gevaar. Hoe gebeur hierdie dinge by ’n finansiële diensteverskaffer?
Word die direkteure en ander sleutelfigure verantwoordbaar gehou? Dit is duidelik dat pensioengeld indirek blootgestel is aan reddingspogings van staatsondernemings en ander ontwikkelingsprojekte.
Kritici wys daarop dat dit eerder fiskale of politieke druk verlig as om primêr aftreebelange te beskerm.
Dit is fundamenteel gebrekkig; politieke prioriteite behoort deur belastinggeld nagestreef te word.
Nie deur die geld van die mees kwesbare in die samelewing, naamlik pensioentrekkers te gebruik nie.
- Hardus Mynhardt, Mosselbaai
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
