Vinnige optrede verhoed dat meer tydens gru-ongeluk sterf

Foto: Limpopo SAPD
Foto: Limpopo SAPD

Twaalf polisiebeamptes is beseer en ’n motoris is dood toe ’n sedan Vrydagaand op die N1-snelweg in Limpopo reg van voor teen ’n polisieminibus gebots het.

Die ongeluk het op Vrydag 28 Augustus omstreeks 19:00 naby die Astron-vulstasie buite Polokwane plaasgevind.

Volgens polisiewoordvoerder kolonel Malesela Ledwaba dui voorlopige inligting daarop dat die motoris noordwaarts op die N1 gery het toe die voertuig uit sy baan geswenk en teen die polisieminibus gebots het.

Die sedan het ná die botsing aan die brand geslaan.

Vinnige reaksie

Motoriste wat die ongeluk gesien het, asook nooddienste, het vinnig op die toneel gereageer. Ondanks die feit dat die sedan reeds in vlamme gehul was, kon die noodspanne die brand blus en die beseerde polisiebeamptes uit die minibus red.

Die motoris van die sedan is op die toneel dood verklaar.

Die 12 beseerde beamptes is na verskeie mediese fasiliteite regoor die provinsie vervoer vir behandeling.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Violet Mathye, het die vinnige optrede van motoriste, wetstoepassers, verkeersbeamptes en nooddienste geloof “wat beslissend opgetree het om die brand te blus en die beseerdes te red”.

“Hulle dapperheid het vanaand lewens gered,” het Mathye gesê.

Medelye

Die LUR het haar medelye aan die oorledene se familie betuig en die beseerde beamptes ’n spoedige herstel toegewens.

Limpopo se provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Jan Scheepers, het die toneel besoek en sy medelye aan die familie van die oorledene betuig.

Scheepers het almal bedank wat op die botsing gereageer en gehelp het om die beseerde beamptes te red, en hulle ’n spoedige herstel toegewens.

Polisie-ondersoeke na die omstandighede rondom die botsing duur voort.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos