SA rugby betreur die verlies van Bok #444

All Black Wayne Cottrell vind eerstehands uit hoe dit voel om deur Joggie Jansen deur te loop. Foto: Gallo
All Black Wayne Cottrell vind eerstehands uit hoe dit voel om deur Joggie Jansen deur te loop. Foto: Gallo

Voormalige Springbok Joggie Jansen is Sondagoggend oorlede. Hy was 78 jaar oud.

Jansen is op 5 Februarie 1948 in Griekwastad gebore en was ’n deurwinterde Vrystaat-ondersteuner.

Top op hede is Joggie en sy broer Eben die enigste twee Springbokke wat Hoërskool Griekwastad tot nou toe opgelewer het.

Volgens OFM het hy vermoedelik aan ’n hartaanval gehad tydens ’n kerkdiens in Namibië beswyk.

Joachim Scholtz “Joggie” Jansen was kwalik 16 jaar oud toe hy die Griekwas by die eerste Craven-week in 1964 verteenwoordig het.

Hy het tussen 1970 en 1972 10 toetse vir die Springbokke gespeel.

Joggie is geloof as ’n sterk senter en die groot bydrae wat hy gemaak tot die Springbokke se reeksoorwinning oor die All Blacks in 1970. Hy word dalk die beste onthou vir sy verwoestende duikslag op Wayne Cotterill van die All Blacks tydens daardie toer deur Suid-Afrika.

In 1971 het hy ook in die toetsreekse teen Frankryk en Australië gespeel. Sy laaste toetswedstryd was die verloor-toets teen Engeland in 1972. Jansen het in nog vyf toerwedstryde gespeel en vyf drieë gedruk, benewens sy een drie in ’n toetswedstryd vir die Springbokke.

Op provinsiale vlak het Jansen vir die Vrystaat gespeel en was hy deel van die 1976 Curriebeker-wenspan wat Wes-Transvaal in die eindstryd met 33-16 verslaan het.

Die Cheetahs-trust

Jansen was ook deel van die Cheetahs-trust en het hom as volg daaroor uitgespreek:

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer om ’n ambassadeur vir die trust te wees. Ek is trots om te kan sê ek was saam met groot name soos Gysie Pienaar, Gerrie Germishuys, De Wet Ras, Barry Wolmarans, Theuns Stofberg, Klippies Kritzinger, Rampie Stander, Martiens le Roux en my boet Eben lid van die eerste Vrystaatspan wat die Curriebeker gewen het.

“Vir my is daar maar nog altyd net een span, en dit is die Cheetahs.”

Huldeblyke aan Jansen

In ’n plasing op Facebook het die Griekwa Rugby-unie die volgende oor Jansen gesê:

“Vandag onthou ons nie net ’n Springbok-legende nie, maar ook ’n seun van die Noord-Kaap en’n speler wat deel was van die trotse rugbygeskiedenis van die Griekwas.

“Ons innige meegevoel gaan aan sy familie, vriende en almal wat hom geken en liefgehad het.

“Rus in vrede, Joggie. Jou nalatenskap sal voortleef.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos