Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Stokvis (hake), basielkruidpesto, rys, parmesaankaas, vars tamaties
Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:
Pesto-stokvis met tamatie-en-parmesaanrys
Bestanddele (genoeg vir 2-3):
- 2–3 vars stokvisfilette (ontdooi indien hulle bevrore was)
- 1 koppie rys
- 3-4 eetlepels pesto
- ½ koppie gerasperde parmesaankaas
- 2–3 vars tamaties, gekap
- Olyfolie of botter
- Sout en swartpeper
Metode:
- Kook die rys volgens die instruksies op die verpakking. Wanneer dit gaar is, roer die gekapte tamaties en ongeveer ¼ koppie parmesaan by. Geur met sout en peper.
- Druk die visfilette droog met kombuispapier en geur met sout en peper. Skep ’n groot lepel pesto bo-op elke filet.
- Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n oondvaste pan oor matige hitte. Plaas die vis met die pestokant na bo in die pan en braai vir ongeveer 3-4 minute. Sit die pan nou in ’n warm oond by 200 °C en bak nog sowat 5 minute tot gaar. Jy kan die hele gaarmaakproses ook in jou oond doen – bak dan vir 12-15 minute.
- Sprinkel die res van die kaas oor die vis gedurende die laaste 2-3 minute van gaarmaak.
- Skep die tamatie-en-parmesaan-rys op borde en plaas die pesto-visfilette bo-op. Rond af met ekstra pesto, vars gekapte tamatie en ’n bietjie suurlemoensap indien beskikbaar.
Indien jy ons kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op dié resep met dieselfde bestanddele:
Italiaanse gebakte stokvis
Voeg by: Mozzarella en koffel
Laat weg: Parmesaan
- Plaas die stokvisfilette in ’n oondbak.
- Meng gekapte tamaties, 2 e pesto en ’n bietjie gekapte knoffel (na smaak!).
- Skep die mengsel oor die vis en bak teen 200 °C vir 12-15 minute.
- Sprinkel ’n handvol gerasperde mozzarella bo-oor en bak nog ’n minuut of drie tot gesmelt. Sit voor saam met gaar rys.
Gebraaide eierrys met pesto en tamatie
Voeg by: Eiers en uie (’n Goeie opsie as jy minder vis wil gebruik.)
- Kook die rys en laat dit effens afkoel.
- Braai ’n gekapte ui in ’n bietjie olie. Voeg die rys en gekapte tamaties by. Roer 2-3 eetlepels pesto deur.
- Maak ’n holte in die middel en voeg twee geklitste eiers by. Roer totdat die eiers gaar is. Sprinkel parmesaan bo-oor. Sit voor met gebraaide stokvisfilette (of laat heeltemal weg vir ’n vegetariese maaltyd).
Bros parmesaan-stokvis met tamatiesalsa
Voeg by: Broodkrummels en suurlemoen
- Meng die parmesaan en ’n koppie broodkrummels.
- Smeer die stokvisfilette liggies met pesto en druk die parmesaan-broodkrummelmengsel bo-op.
- Bak teen 200 °C vir ongeveer 15 minute, totdat die bolaag goudbruin is.
- Meng intussen gekapte vars tamaties met ’n bietjie suurlemoensap, sout en peper.
- Skep die vars tamatiesalsa oor die gebakte vis.
- Sit voor saam met rys of ’n eenvoudige slaai.
