‘Boer soek ’n vrou’: Hoopvolle harte – en iemand kan slange vang 

Francois begin gevoelens ervaar. Foto: Verskaf
Francois begin gevoelens ervaar. Foto: Verskaf

In die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, het dinge tot nou toe by tye half rampspoedig vir sommige van die boere verloop. 

Verlede week was dit Arno, die 28-jarige bosbouboer van Tzaneen, wat een van sy drie potensiële pasmaats huis toe gestuur het. Arno het dit gevoel dat Mariska haarself nou aan die begin van ’n nuwe hoofstuk in haar lewe bevind en hy wou nie in die pad daarvan staan nie. Hy was ook die eerste boer wat dié besluit kon neem, waar ander boere se pasmaats die besluit uit hul hande geneem het.

Die Vrystaatse boer, Willie (37), was diep geskok toe Tayla aangekondig het dat sy sommer self haar tasse gaan pak nog voordat hy ’n keuse kon maak – sy het glo nie ’n konneksie met hom ervaar nie. En sy was oortuig daarvan dat hy eintlik nie van haar hou nie en dat hy nie juis “aan die brand” was vir haar nie.

Tayla het gevoel Willie was nie “aan die brand” genoeg vir haar nie. Foto: Verskaf
Tayla het gevoel Willie was nie “aan die brand” genoeg vir haar nie. Foto: Verskaf

Maar Willie se reaksie daarop was verbasend: “Dit sou nie my besluit gewees het nie” – en dat hy meer potensiaal vir hulle twee gesien het. Tayla het nie geweet hoe om daarop te reageer nie.

Maar wie weet, dalk was dit ’n kwessie van eind goed, als goed . . . want, soos Reandi gesê het, kan die liefde enige tyd begin blom.

Willie glimlag skielik baie breed. Foto: Verskaf
Willie glimlag skielik baie breed. Foto: Verskaf

Intussen het Francois (34), die natuurbewaarder van Hoedspruit, sy twee kuiergaste geneem om eerstehands uit te vind hoe om slange te vang. Die ware Jakob, natuurlik. Francois was eerste aan die beurt om ’n ratse Mosambiekse spoegkobra te vang.

Francois se twee gaste het hom luid toegejuig toe dit sy beurt was om die Mosambiekse spoegkobra te vang. Foto: Verskaf
Francois se twee gaste, Sonel en Beniska, het hom luid toegejuig toe dit sy beurt was om die Mosambiekse spoegkobra te vang. Foto: Verskaf

Beniska se beurt was betreklik dramaties met haar ‘vangs’ wat wraggies gespoeg het terwyl sy hom gevang het! Francois was baie beïndruk met hoe kalm sy alles benader het. 

Ja, daar was beslis 'n (regte) slang in die gras . . . Foto: Verskaf
Ja, daar was beslis ’n (regte) slang in die gras . . . Foto: Verskaf

Maar Sonel moes ’n yslike groot slang trotseer – en dié outjie was glad nie gelukkig daarmee nie. Daar was ’n woedende gesis en aggressiewe pikbewegings na haar kant toe, maar sy kon blitsvinnig ’n doek oor sy kop gooi om hom te neutraliseer.

Francois is duidelik besig om die kat mooi uit die boom te kyk. Foto: Verskaf
Francois is duidelik besig om die kat mooi uit die boom te kyk. Foto: Verskaf

En Francois? Hy begin al hoe meer voel wat reg en nie reg voel nie . . .

Hy het toe wel tyd ingeruim vir eenkant-gesprekke met sy twee gaste. En iemand se hart het al vinniger begin klop.

Daar was behoorlik sweet getap saam met Jack (30), die appel- en peerboer van Hermanus tydens ’n besoek aan Jambo Core Fitness-gimnasium op die dorp. En al drie sy potensiële pasmaats het baie goed tred gehou met die stewige pas wat deur Manny gestel is.

Daar is behoorlik gesweet in die gimnasium. Foto: Verskaf
Daar is behoorlik gesweet in die gimnasium. Foto: Verskaf

Tydens die alleengesprekke met sy potensiële pasmaats het die jong boer ook by tye bloed gesweet, want daar was baie reguit vrae gevra. En reguit antwoorde is verskaf. Maar van die antwoorde het ook een van die pasmaats seergemaak.

Jack het onwetend een van sy gaste gekwets. Foto: Verskaf
Jack het onwetend een van sy gaste gekwets. Foto: Verskaf

Tog het daardie gesprekke Jack se keuse nie juis makliker gemaak nie. Maar, het hy aan die drietal verduidelik, hy moes ’n keuse maak wat in daardie stadium vir hom na die beste vir die toekoms gelyk het. 

Tyd vir Lené om te groet. Foto: Verskaf
Tyd vir Lené om te groet. Foto: Verskaf

Dis hoekom Lené se tydjie op die plaas nou tot ’n einde gekom het.

Reandi sê

“Wanneer dit by die sake van die hart kom, is niks maklik nie. Maar die liefde sal dié vind wat nog wag. Al wat elkeen van ons rêrig wil hê, is iemand wat ons werklik raaksien.”

  • Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos