Sharpeville-oorlewendes van 1960 dagvaar regering

Gewonde mense lê in Maart 1960 in die straat in Sharpeville, waar veiligheidsmagte 67 betogers doodgeskiet het.
Gewonde mense lê in Maart 1960 in die straat in Sharpeville, waar veiligheidsmagte 67 betogers doodgeskiet het. Argieffoto: AFP.

Prokureurs wat oorlewendes en familielede van slagoffers verteenwoordig wat dood is toe apartheidspolisie op ’n betoging in Sharpeville losgebrand het, het aangekondig dat hulle regstappe teen die Suid-Afrikaanse regering gaan instel.

Die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960 was ’n keerpunt in die stryd teen die wit minderheidsregering en het wêreldwyd opslae gemaak.

Lawyers for Human Rights het aangekondig dat hulle wetgewing wil laat tersyde stel wat ’n jaar ná die slagting aanvaar is en wat oorlewendes en afhanklikes van die slagoffers verbied het om regstappe in verband met die voorval in te stel.

“Die eisers sal aanvoer dat die Vrywaringwet uit die wetboek verwyder moet word,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.

Volgens die organisasie het die wet alle regseise wat uit die Sharpeville-slagting voortspruit, effektief uitgewis en die eisers se grondwetlike reg op toegang tot die howe geskend.

Die slagting het die regering genoop om die land se eerste noodtoestand af te kondig en beide die PAC en die ANC te verbied.

Die gebeurtenis het ’n verskuiwing van passiewe verset na gewapende stryd ingelui en internasionale veroordeling van apartheid ontlok.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos