Dit was geen verrassing dat die Springbokke teruggeveg het om die tweede Greatest Rivalry-toets in die Kaap te wen nie.
Daar was net te veel faktore in die eerste toets wat gewys het ’n oorwinning was aan die kom.
Boonop was die aantal strafskoppe wat die All Blacks in hul eie gebied op Ellispark afgestaan het, rooi ligte wat begin flikker het.
Een ding wat onder die soeklig gekom het, was die Springbokke se verdediging.
Hoewel die All Blacks ’n sterk aanvallende span is, was tekens reeds vroeër vanjaar sigbaar dat die Bokke nie hulle standaarde handhaaf nie.
Dit het ’n paar redes.
Die gebrek aan samehorigheid wat die proefspanne in Julie gewys het, het duidelik na vore gekom.
Sommige spelers is met die spoed en intensiteit van internasionale rugby onkant betrap.
’n Mens moet egter ook in ag neem hoe die landskap op verdediging verander het.
Veranderinge deur Wêreldrugby het die klem meer na die aanvallende span geskuif. Kom ons kyk: Met laer lakwerk het dit moeiliker geword om kontak te oorheers. Die aanvallende span kan verder veld wen, die bal vinniger uitgee en met tyd en ruimte voortspeel. Om daarvoor te vergoed, sien ons dat verdedigers dubbellakke uitvoer, wat getalle elders kan beïnvloed.
Met die onkantlyn vir die verdedigende skrumskakels het die aanvallende span genoeg plek om gevaarlike aanvalle af te stuur.

Die 50:22-skop het ook meer ruimte en onsekerheid in die voorste verdedigingslinies geskep, aangesien spelers hul opsies moet oop hou en moeilike besluite moet neem oor of hulle vorentoe moet druk of eerder agter moet terugval.
Saam met die evolusie van moderne aanvallende patrone en die beter vermoë van spelers as ’n reaksie van hoe oorheersend verdediging geraak het, wys dit ons hoe goed spanne deesdae verdedig.
Tog voel ons die Bokke is nog nie presies waar hulle wil wees nie. By die braaivleisvure en op die internet hoor ons daar is dalk ’n probleem met die Bokke se stelsel, of dat ons teenstanders te maklik aan ons buitekant verbyglip. Vandag wil ek dus kyk of hierdie argumente water dra.
Niemand sal ontken dat dit heel dramaties lyk wanneer ’n span om die Bokke hardloop nie.
Die jakkals is in die hoenderhok. Groen truie skarrel oral om ’n katastofiese breek te probeer hokslaan.
Omdat dit dramaties lyk, is dit wat ons ná ’n wedstryd onthou. Dit verdraai die algehele prentjie van verdediging. Ek het elke liewe All Black-aanval in die tweede toets ontleed om te kyk of daar enige probleem met die Bokke se verdedigingstelsel is en hoe sleg die Bokke aan die buitekant betrap is. Die antwoorde kan jou dalk verras.
Van die 30 keer dat die All Blacks aangeval het, het elke aanvalspoging veelvuldige fases gehad asook veelvuldige kere wat die bal uitgegee is. Hiermee het hulle vier drieë gedruk.
Die Bokke kan gewis beter vaar as dit. Hou in gedagte dat die All Blacks daarvan hou om besit te behou en voortdurend jou verdediging sal toets om ’n opening te bewerkstellig. Dit wys waarom hulle hiermee een van die gevaarlikste spanne in die wêreld is.
Van die 30 All Black-bewegings is die Bokke 14 keer beloon deur middel van omgekeerde besit, ’n strafskop om besit terug te wen ná ’n swak skop of om ’n fout af te dwing.
Dit beteken 46% van die All Blacks se aanvallende pogings het op ’n voordeel vir die Bokke uitgeloop. Dis massief. Amper die helfte van die All Blacks se aanvalspogings het die Bokke ’n voordeel gegee.
Alles kom neer op die Bokke se aggressiewe lynspoed en honger vir risiko. Hulle is bereid om kanse te waag, maar word gereeld daarvoor beloon.
Ek werp lig daarop omdat ons soms van die gelykmaker vergeet. Wat in ons geheue vasskop, is die rare glips aan ons buitekant en nie die voordeel elke keer as die Bokke ’n aanslaan afdwing nie.
Die Bokke glo hoe verder hulle veld-op kan kom en dieper aangeë kan afdwing, hoe meer tyd het het hulle om die gate op die kante te stop.
As jy dus die Bokke se D-stelsel beoordeel, beteken dit nie noodwendig hoeveel keer spanne aan die buitekant om is nie. Dit gaan oor hoe doeltreffend hierde breekslae hanteer word.
Van die All Blacks se 30 aanvalspogings het hulle ses keer verby die “edge” gekom. En van dié ses breekslae het hulle net een keer verby die tweede verdediger gekom – wat op ’n drie uitgeloop het.
Ja, om die Bokke aan die buitekant te klop, lyk dramaties, maar dit gebeur nie baie nie.
Kyk weer na die wedstryd en julle sal sien die Bokke se aggressie het hulle aan die buitekant nie werklik duur te staan gekom nie.
Waar het die ander drie drieë dan vandaan gekom? Ek sou sê dit was eerder die gevolg van spelersfoute as ’n probleem met die stelsel.
Een drie het gekom ná ’n gebroke spelfase ná ’n skop, ’n ander ná ’n duikslag wat gemis is vanaf ’n lynstaan, en ’n derde ná ’n langdurige en uitmergelende Nieu-Seelandse aanval op die doellyn.
’n Mens kan redeneer dat ’n stelsel dit vir spelers moeiliker kan maak en só tot foute lei, maar ek dink nie dit was in dié wedstryd die geval nie. Hierdie week sal dit in die Bok-kamp eerder gaan oor die slyp van duikslagtegniek, beter kommunikasie en duideliker rolverdeling.
Maar die stelsel? Die stelsel werk. En die Bokke se sogenaamde “probleme” aan die buitekant is ’n mite. Hulle is doelbewus bereid om klein verliese, wat op die oog af gevaarlik lyk, te aanvaar in ruil vir veel groter winste wat in werklikheid van groot waarde is.
